Skip Ribbon Commands
Skip to main content

Suid-Afrika, en die res van Afrika, behoort die evolusie van telemedisyne met ope arms te verwelkom aangesien dit gesondheidsorg meer toeganklik kan maak en ’n beduidende impak op die lewens van plattelandse bevolkings kan hê, sê Dr Helen Weber, Mediese Adviseur by Sanlam.

Dit gebeur vinniger as wat ons dink. Trouens, in lande soos Amerika was daar ’n beduidende afname in gesondheidsorgkostes sedert die implementering van telemedisyne in daaglikse kliniese praktyke. Weber glo daar is ongetwyfeld potensiaal om ook die gaping in Afrika se mees afgeleë gebiede te oorbrug, waar daar geen of bitter min spesialiste beskikbaar is.

Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO)* woon 43% van Suid-Afrika se bevolking in plattelandse gebiede waar daar slegs een dokter vir elke 7 700 mense is. Afrika, wat 14% van die wêreld se bevolking huisves, sukkel om 24% van die wêreld se siektelas te dra. Nietemin is net 3% van die wêreld se gesondheidsorgwerkers op die vasteland werksaam.

Met telemedisyne kan plattelandse pasiënte deur middel van videokonferensies, teleradiologie en telepatologie toegang hê tot ’n spesialis. Die implementering van digitale gesondheidsrekords stel reeds Suid-Afrikaanse pasiënte in staat om op enige plek in die land met gesondheidsorgpraktisyns te skakel.

“Met telemedisyne kan plattelandse pasiënte deur middel van videokonferensies, teleradiologie en telepatologie toegang hê tot ’n spesialis,” sê Dr Helen Weber, Mediese Adviseur by Sanlam.

Uiters belangrike voordele van die telemedisyne-tendens sluit die volgende in:

  • Dit bespaar kostes en tyd vir pasiënte, hospitale, mediese fondse en gesondheidsversekeraars: In plaas daarvan om personeel en toerusting rond te beweeg, bring jy die dokter na die pasiënt teen ’n minimale koste.
  • Verhoogde toegang tot gesondheidsorg en spesialissorg: Pasiënte hoef nie te wag om ’n spesialis by ’n hospitaal te gaan sien nie, aangesien uitslae onmiddellik aan die spesialis gestuur kan word. Telemedisyne en aanlyn mediese rekords kan ook aan alle belanghebbendes toegang gee tot bloedtoetse en spesiale ondersoeke, wat duplisering en kostes verminder.
  • Dit kan help om versekering te verpersoonlik: Nuwe tegnologieë, groot data en masjienleer beteken versekeraars soos Sanlam kan hul kliënte se ervarings verbeter deur onderskrywing al hoe meer by die individu aan te pas.
  • Dit kan werkgewers help om beter primêre gesondheidsorg-opsies aan te bied: Telemedisyne kan ’n kostedoeltreffende opsie vir werkgewers bied om werknemers te help om chroniese toestande, siektes en algemene welstand deur toegang tot praktisyns en gesondheidsvoorligting te bestuur.
  • Dit bied gesondheidsvoorligting: Met ’n toestroming van toepassings (“apps”) en draagbare toestelle wat daarop gemik is om mense in te lig oor hoe om gesond te leef, skep telemedisyne ’n groter bewustheid van gesondheidsvoorligting by die publiek en gee dit gesondheidsorgwerkers toegang tot deurlopende gesondheidsvoorligting in afgeleë gebiede.
  • Dit stimuleer innovasie: Talle tegnologieë is aan die ontwikkel wat telemedisyne bevorder en aanvul – soos die druk van 3D-organe (biodrukwerk), wat belofte toon vir oorplantingspasiënte. Plaaslike telemedisyne-opsies sluit tans, onder meer, die volgende in: ’n 24-uur babablitslyn, ’n diabetes-voorligtingsdiens, verkryging van tweede menings vanaf Medigo en Hello Doctor, mobiele toepassings met mediese inligting en advies, om slegs ’n paar te noem.

Die sekuriteit van privaat inligting bly natuurlik allerbelangrik en sal waarskynlik verder ontwikkel. In Suid-Afrika word telemedisyne deur die Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika beheer. Uit ’n tegnologiese oogpunt hou die regulering van data en privaat inligting, soos deur die Wet op Beskerming van Persoonlike Inligting (POPIA), ’n wakende oog.

*Bron: Wêreldgesondheidsorganisasie

Most Read

Sanlam Life Insurance is a licensed financial service provider.
Copyright © Sanlam