Skip Ribbon Commands
Skip to main content

Die begin van ’n nuwe jaar is die ideale tyd om vooruit te dink. Met die regte ingesteldheid en plan in plek, kan jy hierdie mylpale in geleenthede omskep om slim finansiële keuses te maak wat ’n gerieflike en sorgvrye aftrede ondersteun.

André Wentzel, Oplossingsbestuurder vir Herhalende Spaarprodukte, meen jy moet aandag gee aan hierdie belangrike gebeure in 2020:

  1. Nasionale Begrotingsrede: 26 Februarie 2020

    Maak seker jy verstaan hoe die regering se planne vir 2020 jou persoonlike geldsake raak. Enige veranderings in die inkomstekategorieë en werklike marginale belastingkoerse kan jou belastingvoordele op jou bydraes tot ’n uittree-annuïteit (UA) en ander aftreeprodukte beïnvloed. Die huidige maksimum belastingaftrekking waarvoor jy in ’n belastingjaar kwalifiseer, word beperk tot die belegging van 27.5% van jou jaarlikse belasbare inkomste (maksimum R350 000 per jaar) in ’n aftreefonds. Indien hierdie perk verhoog word, kan jy meer geld op ’n meer belastingdoeltreffende wyse vir aftrede spaar.

  2. Belastingjaareinde: 29 Februarie 2020

    Indien jy beplan om jou UA of belastingvrye spaarrekening aan te vul om uit belastingtoegewings munt te slaan, maak seker dat jy dit betyds doen voor 29 Februarie. Vind uit wat jou verskaffer/s se sperdatums is om genoeg tyd vir die verwerking van beleggings toe te laat.

    Hou ook in gedagte dat jou aftreebydraes nie deur die maksimum jaarlikse aftrekbare bedrag beperk hoef te word nie. Hoewel jy nie ’n belastingvoordeel sal kry vir enigiets wat jy vanjaar bo hierdie perk spaar nie, sal dit in later jare in aanmerking kom.

  3. Begin van die belastingopgawe-seisoen: 1 Julie 2020

    Hou al jou dokumente gereed om jou inkomstebelastingopgawe vroeg in te dien en vinniger toegang te kry tot enige terugbetalings, insluitend die bedrag wat jy terugkry vir die aanvulling van jou UA in Februarie. Indien jy ’n terugbetaling kry, oorweeg om dit in jou aftreespaarplan te herbelê en werklik jou belastingvoordeel optimaal te benut.

  4. Tyd vir jaarlikse salarisrverhogings

    Jaarlikse verhogings help om stygende lewenskostes te bestuur, maar as jou verhoging meer as inflasie is, kan dit maklik in die bestedingslaggat* beland. Dit kan slimmer wees om jou huidige leefstyl te handhaaf en jou ekstra inkomste vir aftrede te spaar. Hoe dit ook al sy, maak seker jy hou jou aftreebydraes by in reële terme. As jy byvoorbeeld R2 000 per maand in ’n UA spaar en jou bydraes dieselfde hou, sal jy in reële terme minder spaar (as gevolg van inflasie en stygende lewenskostes). Maak seker jou bydrae tot jou aftreefonds bly ná ’n salarisverhoging minstens dieselfde persentasie van jou salaris – of verhoog dit as jy kan.

“Maak seker jou bydrae tot jou aftreefonds bly ná ’n salarisverhoging minstens dieselfde persentasie van jou salaris – of verhoog dit as jy kan,” sê André Wentzel, Oplossingsbestuurder vir Herhalende Spaarprodukte.

  1. Bonusseisoen

    As jy in 2020 vir ’n jaarlikse bonus in aanmerking kom, hou jou aftreedoelwitte in gedagte. Ja, jy verdien om jouself te beloon vir goeie prestasie, maar onthou ook dat daar geen bonusse of dertiende tjeks gaan wees wanneer jy afgetree het nie. Oorweeg dus om ’n deel van jou bonus te gebruik om jouself nou te bederf, en sit ’n deel opsy vir aftrede.

  2. Oorwegings vir vryskutwerkers en kontrakteurs

    As jy vryskut- of kontrakwerk doen, of byvoorbeeld ekstra inkomste verdien uit ’n stokperdjie, beplan vir die volgende:

    • Vryskutwerk beteken jy is ten volle verantwoordelik vir jou eie belastingbesparings. As jy ’n voorlopige belastingbetaler is, spaar ’n deel van jou maandelikse inkomste in ’n rentedraende produk, om voorbereid te wees vir die twee groot jaarlikse belastingbetalings wat op 31 Augustus 2020 en 28 Februarie 2021 verskuldig is.
    • Bepaal wat jou gemiddelde maandelikse inkomste in ’n tipiese jaar is, en gebruik in maande wanneer jy meer as die gemiddelde verdien, die ekstra geld om jou aftreespaarfonds of ’n noodfonds vir die maerder maande aan te vul.

Alles in ag genome, het dit sin om jou persoonlike finansiële reis vir die jaar vorentoe sorgvuldig te beplan. Raadpleeg jou finansiële adviseur om jou aftreedoelwitte te evalueer en jou spaarplan aan te pas om uit al die geleenthede in 2020 munt te slaan. As jy goed voorbereid is en slimmer keuses maak, sal dit help om lewenslange finansiële welstand te verseker.

*Wanneer jy meer aan diskresionêre uitgawes bestee soos wat jou besteebare inkomste styg.

Most Read

Sanlam Life Insurance is a licensed financial service provider.
Copyright © Sanlam