Skip Ribbon Commands
Skip to main content

Hier’s vyf maniere waarop u u kind kan help om eksamenstres te oorwin en goed te presteer:

1. Skep die regte atmosfeer

Dit is veral belangrik as u ’n ouer is wat u kind se heel eerste eksamens meemaak. “Wanneer ouers oor komende eksamens stres, kan dit hul kinders negatief beïnvloed,” sê Sandra Jackson, ’n maatskaplike werker by FAMSA (Families SA). “Hou die tydperk voor eksamens so ontspanne en stresvry as moontlik. Dit sal verseker dat kinders nie in die jare vorentoe eksamentyd in ’n negatiewe lig beskou nie.”

2. Skep perspektief te midde van eksamenstres

“Maak seker u kinders neem deel aan ander aktiwiteite en kry nog steeds ’n blaaskans om op vriende, stokperdjies, sport en ander aktiwiteite te fokus,” is Jackson se raad. “Hulle moet voel dat eksamens nie allesoorheersend is nie.”

In die geheel beskou, is daar ’n algemene wanopvatting dat alles daarom gaan om A’s te kry. Dit kan egter vir ’n kind oorweldigend wees. “Dit is iets wat ons dikwels by leerders in Graad 6 en 7 sien,” sê Amy Haworth, ’n skoolvoorligter by Squirrels Play Counselling. “Hul ouers wil hê hulle moet in die beste hoërskole plek kry en gevolglik word hulle tot verder as die uiterste gedryf om onrealistiese resultate te behaal.”

Die feit is dat hoërskole nie net na akademiese resultate kyk nie, maar ook na ander gebiede waarop sukses behaal word, soos sport, kultuur, gemeenskapsdiens en leierskap.

3. Doen voorbereiding en beplanning – en hou dan daarby

Voor u kind nog inskuif voor die boeke en notas, kry die basiese beginsels reg met struktuur. “Skeduleer minstens twee weke voor die tyd gereelde studietye middae en saans,” is Jackson se raad.

Haworth stel voor dat balans geskep word wanneer studiesessies beplan word: “Daar is bewys dat korter studiesessies van 30 minute elk, versprei oor ’n paar dae, meer doeltreffend is as om deurnag te studeer.”

Oorweeg dan om ’n toegewyde studieruimte te skep – verkieslik weg van geraas, en met goeie natuurlike lig. Wanneer kinders begin studeer, maak seker hul basiese behoeftes kry behoorlike aandag. “Maak seker u kind kry genoeg slaap en die nodige voeding met ’n gebalanseerde dieet,” sê Jackson. Haworth stem saam, en voeg by dat dit ook belangrik is om gehidreer te bly. “Maak seker hul brein is elke dag heeltemal gereed en gevoed vir die program van die dag.”

“Maak seker u kind kry genoeg slaap en die nodige voeding met ’n gebalanseerde dieet,” sê Sandra Jackson, ’n maatskaplike werker by FAMSA.

4. Skakel onnodige geraas uit

Wanneer u kind gaan eksamen skryf, moedig hom of haar aan om ekstra goed georganiseerd te wees – dit sal enige moontlike stres weens swak beplanning uitskakel.

Haworth stel voor dat ouers hul kinders herinner om vertroud te raak met hul eksamenprogram. “Kinders daag dikwels heeltemal voorbereid op vir ’n eksamen, maar kom dan agter hulle moet daardie dag eintlik ’n ander vak skryf.”

Help hulle om die gewoonte aan te kweek om die regte skryfbehoeftes en ander toerusting vir die dag in te pak, sodat hulle nie belangrike goed mis nie. “Gejaagdheid en take wat op die nippertjie uitgevoer word, kan onnodige spanning veroorsaak op die eksamendag,” maan Haworth.

5. Behou ’n emosionele band

Ongeag of dit u laerskoolkind se eerste eksamenweek of u matriekleerder se laaste skof is, dis belangrik om ’n sterk emosionele band met u kind te behou gedurende hierdie druk tyd.

“Vra u kind hoe hy of sy voel oor die eksamens, en moenie dit afmaak nie,” is Jackson se raad. Sy sê hierdie emosionele band laat hulle voel dat hulle nie alleen die pad hoef aan te durf om hul bes te doen en goeie resultate te behaal nie. Tegnieke wat u hulle kan leer, is om diep asem te haal, ’n stresballetjie te druk, positiewe gedagtes te koester, en te strek wanneer hulle asem skep.

Wanneer die stres besonder erg is, stel voor dat hulle ’n bietjie wegkom van die boeke. “Hulle kan ’n plek weg van die studieruimte kry – soos hul kamer of buite – en dit gebruik om diep asem te haal, te strek, hul oë toe te maak en te dink aan alles wat hulle kan aanraak, ruik en voel op daardie oomblik. Miskien kan hulle dink aan 10 dinge wat hulle gelukkig maak,” stel Haworth voor.

Hulle kan ’n gewoonte daarvan maak, soos om voor die boeke te gaan sit. “Sit 10 minute op ’n dag in hierdie ontspanningsruimte, sonder enige afleiding (dit sluit selfone in).”

Dit is begryplik dat ouers wil hê hul kinders moet vir hulle sê wanneer hulle voel die stres of angstigheid raak te veel. Skep ’n warm, onbevooroordeelde ruimte waar kinders gemaklik genoeg voel om hul gevoelens met u te deel.

“Dit help dikwels om bloot te gesels oor die emosies wat hulle ervaar,” sê Jackson. Dit is ook belangrik om hulle te herinner dat daar ook ander ondersteuning vir hulle beskikbaar is. Haworth stel voor dat hulle met hul klasonderwyser gesels, of met enigiemand op skool by wie hulle aanklank vind en wat hulle kan help. “Baie skole het ook ’n skoolvoorligter, wat kinders kan help om stres en angstigheid te hanteer.”

As u kind voel hy of sy kan nie met u, ’n onderwyser of ’n vriend(in) gesels nie, kan ’n afspraak gemaak word by ’n berader van FAMSA, sê Jackson.

Indien u te veel hooi op u vurk het of u kind hulp met skoolwerk benodig, stel gerus Personal Assistant en Dial-A-Teacher op die proef – twee ongelooflike voordele wat ons aan Sanlam Reality-lede bied.

Most Read

Sanlam Life Insurance is a licensed financial service provider.
Copyright © Sanlam