Skip Ribbon Commands
Skip to main content

Die onlangse FaceApp-gier het die kollig laat val op veroudering (om nie te praat van datasekuriteit nie). Ydelheid gee miskien die aflaaisyfers ’n hupstoot, maar ’n ernstige ondertoon wat in jou agterkop kan knaag, is... hoe gaan jou lewe oor 20, 30 of selfs 40 jaar lyk?

Ons het almal drome, en ons wenslysie word elke dag langer, maar hoe gaan jy al hierdie #Lewensdoelwitte befonds? Watter stappe doen jy vandag om in jouself, jou gesin en jou toekoms te belê?

André Wentzel, Oplossingsbestuurder by Sanlam, sê
dis tyd om ons spaarfondse te FaceApp!

Identifiseer jou doelwit

Daardie ouer gesig wat jy in die “app” sien, watter soort lewe ly hy of sy? Kan die ‘toekomstige jy’ vroeg aftree, sou dit jou keuse wees? Die finansiële vryheid hê om te kan reis?

Wanneer jy ’n duidelike begrip van jou doelwitte het, kan jy tot die beste van jou vermoë beplan. Hierdie persoonlike aksielys sal jou motiveer om by jou spaarplan te hou.

Dink lang termyn

As jy so na jou ouer self kyk, kan jy begin begryp dat die keuses wat jy vandag maak jou later sal affekteer. Jy mag selfs besluit om nou klein veranderinge in jou lewe aan te bring sodat jy later beter af kan wees. Hoekom nie dieselfde met jou geld doen nie?

Langtermynspaardoelwitte hou jou gemotiveerd om langer te spaar – en die volle voordeel van saamgestelde rente te kry. Dit beteken jy verdien in werklikheid rente op rente, wat jou spaarfondse ’n aansienlike hupstoot gee wanneer jy welvaart opbou.

Maak dit maklik om in beheer te bly

Ons het almal goeie voornemens om selfbeheersing toe te pas, maar ons kultuur van onmiddellike beloning – wat niemand van ons altyd vryspring nie – maak dit moeilik in die daaglikse lewe. Moenie te streng met jouself wees nie en maak dit so maklik as moontlik om te spaar. Kry ’n outomatiese maandelikse debietorder op jou spaarplan en betaal jouself eerste, voor jy op ander behoeftes en wense fokus.

Hou jou oog op die einddoel

Wanneer jy vir ’n doelwit spaar, kan jy hindernisse teëkom soos swak markprestasie of om jou werk te verloor. As jy op jou finansiële doelwitte gefokus bly in plaas daarvan om mismoedig te raak, kan jy egter jou planne aanpas en op koers bly. Kry die regte kundigheid en ’n finansiële tussenganger wat jou kan help om jou roete rondom die hindernis aan te pas. Die regte advies gee jou die hulpmiddels wat jy nodig het om jou omstandighede te bestuur. Met hierdie benadering hoef ontwrigtings nie ’n doodloopstraat te word nie.

Win gereeld advies in

Wysheid kom met grysheid, maar hoekom wag tot dit te laat mag wees om voordeel daaruit te trek? Raadpleeg jou finansiële tussenganger. Die ideaal is dat hierdie beplanningsessies jaarliks plaasvind, sodat jy kan bepaal of jy jou roete moet aanpas, en of jy nuwe produkte by jou portefeulje moet voeg. Dit sal jou help om seker te maak jy bly op koers om binne die bestemde tyd te kom waar jy wil wees.

Most Read

Sanlam Life Insurance is a licensed financial service provider.
Copyright © Sanlam