Skip Ribbon Commands
Skip to main content

Terwyl die COVID-19-pandemie ons lewens en die wêreld se finansiële markte ontwrig, is dit heeltemal natuurlik om bekommerd te wees oor jou finansiële sekuriteit, oor beide die kort en lang termyn. Dit is onmoontlik om die toekoms van die markte, die ekonomie en ons samelewing te voorspel, maar dit is belangrik om nie paniekerig te raak nie. Nou is nie die tyd om oorhaastige, emosionele besluite te neem wat jou kanse om finansiële sekuriteit en welvaart oor die lang termyn in die wiele kan ry nie.

Hier is vyf maniere om jou spaar- en beleggingsplanne op koers te hou:

1. Stel en hersien jou doelwitte

Ons glo dat ’n doelwitgebaseerde benadering tot spaar relevant bly en ons beveel hierdie strategie steeds aan gedurende onstuimige tye. Dit behels dat jy ’n volledige begrip van jou toekomstige finansiële behoeftes verkry en dat hierdie insigte gebruik word om jou spaar- en beleggingsdoelwitte te verwoord. Van hierdie doelwitte kan insluit om vir aftrede te spaar, ’n noodfonds op te bou, vir jou kinders se opvoeding voorsiening te maak, en om jou gesin se drome na te jaag wanneer die pandemie verby is. As jy weet waarvoor jy spaar, sal jy ook weet hoe om jou hulpbronne te prioritiseer en in ooreenstemming met jou doelwitte te besluit hoe jy jou geld bestee.

2. Kry professionele advies om te help met jou finansiële aanpasbaarheidsplan

Sanlam se finansiële beplanners is steeds telefonies of via digitale kanale beskikbaar vir konsultasies. Kontak ons en maak ’n afspraak om jou doelwitte te hersien, en (indien nodig) jou planne aan te pas. Die gestruktureerde prosesse wat jy volg wanneer jy met ’n professionele persoon op hierdie gebied werk, sal jou help om die beskikbare opsies ten volle te verstaan en die beste keuses te maak vir jou en jou gesin.

’n Markskok soos die huidige een beïnvloed die geld wat jy reeds gespaar en belê het, maar dit behoort nie die geld wat jy nog in die toekoms wil spaar te raak nie. Om aan te hou om gereeld te spaar, is altyd ’n goeie strategie om finansiële sekuriteit te bou. Dit is goeie nuus vir beleggers met lang beleggingshorisonne, soos jonger persone wat spaar vir aftrede.

Vir beleggers wat aftrede nader, is nou die tyd om te verhoed dat enige beleggingsverliese vasgepen word. Dit kan beteken dat jy aftrede moet uitstel of ander bronne van inkomste moet vind, sodat jy nie aan jou aftreespaargeld hoef te raak nie. Gesels met ’n professionele finansiële beplanner om jou te help om die beste roete vorentoe te bepaal.

3. Spaarsamige bestedingsgewoontes

Te midde van soveel onsekerheid rondom die maatskaplike en ekonomiese impak van die COVID-19-pandemie, is dit noodsaaklik om jou geldsake met soveel selfdissipline as moontlik te benader. Dit is nou die tyd om versigtig te oorweeg waar jou rande bestee word en maniere te vind om hulle te rek deur spaarsamige gewoontes aan te kweek soos om sekere luukshede uit te sny en, waar moontlik, winskopies te soek.

“Dit is nou die tyd om versigtig te oorweeg waar jou rande bestee word en maniere te vind om hulle te rek deur spaarsamige gewoontes aan te kweek soos om sekere luukshede uit te sny en, waar moontlik, winskopies te soek.”

4. Skep ’n finansiële buffer met ’n noodfonds

Daar is nog baie onsekerheid oor inkomste en werksgeleenthede. Daarom is dit belangrik om ’n noodfonds te skep of by te hou, sodat jy ’n buffer het om enige finansiële skokke te absorbeer. Gebruik enige spaargeld (miskien besparings in vervoerkoste, reis- en ander uitgawes gedurende die grendeltyd) om jou noodfonds op te bou. ’n Tipiese noodfonds sal so 3 tot 6 maande se uitgawes dek. As jy nou geld uit jou noodfonds moet gebruik, is dit reg so – dit is waarvoor dit daar is, maar maak seker jy gebruik dit slegs vir noodsaaklike uitgawes.

5. Spaar vir drome

As jy geld opsysit vir dinge wat jy nie nou kan doen nie of wat jy regtig sal wil doen wanneer die pandemie verby is, kan dit help om hoop en betekenis in hierdie moeilike tye te skep. Om ’n gevoel te skep dat daar ’n tyd sal kom wanneer jy sal kan reis, die natuur kan geniet, of ’n kookkursus kan doen – hou vas aan hierdie hoop. Motiveer jouself deur prente op te plak of video’s te kyk van jou drome – en laat hierdie hoop jou en jou gesin deur hierdie moeilike tyd dra.

Skokke soos hierdie het al in die verlede voorgekom en die markte het altyd herstel. Wat nou die belangrikste is, is om deur hierdie tydperk vas te byt met jou beleggings, en gefokus te bly op jou gesondheid en jou toekomstige finansiële aanpasbaarheid.

Most Read

Sanlam Life Insurance is a licensed financial service provider.
Copyright © Sanlam