Skip Ribbon Commands
Skip to main content

Enigeen wat onlangs gehospitaliseer is, sal dit waarskynlik beaam: Mediese dekking is ’n “moet hê”. Maar al is hierdie onkoste meeste mense se tweede grootste maandelikse uitgawe, ervaar baie van ons steeds aansienlike tekorte wanneer ons moet opdok vir die hospitaalrekening of duur buite-hospitaal-behandeling.

Martin Neethling, Besigheidshoof by Sanlam Gesondheidsorgkonsultante, sê met die aantal verskaffers van mediese dekking en die legio produkte wat deesdae beskikbaar is, verg mediese skemakeuses voortdurende aandag en professionele hulp. Hy beveel aan dat ’n mens jou mediese dekkingsopsies jaarliks hersien en ’n gesondheid-geakkrediteerde finansiële beplanner betrek om te verseker dat jou voordele by jou en jou gesin se gesondheidsbehoeftes en huidige finansiële posisie pas.

Wat jy moet verstaan en oorweeg wanneer
jy jou mediese dekking hersien

Hersien jou mediese skemadekking gereeld. Jy aanvaar miskien jy is gedek, maar kom dan agter dat jou mediese skema se bydrae nie naastenby genoeg is om jou hospitaalkostes en spesialisbehandeling te dek nie, en dat jy vir die tekort moet opdok. Ons weet dat spesialisbehandeling die grootste deel van die mediese kostes uitmaak. Die onus is dus op jou om te verstaan watter tariewe spesialiste en hospitale op ’n individuele grondslag met verskillende mediese skemas beding. Boonop is elke persoon se mediese behoeftes anders, so kies mediese skemadekking wat spesifiek by jou omstandighede en sak pas en met jou veranderende gesondheidsorgbehoeftes tred hou.

Oorweeg meer as een verskaffer vir jou gesondheidsorgbehoeftes. Suid-Afrikaanse afbakeningsregulasies verbied mediese skemas om beide gapingsdekking en hospitaalkontantplanne te verkoop, en omgekeerd. Mediese skemas word deur die Raad vir Mediese Skemas gereguleer, terwyl produkte soos gapingsdekking en hospitaalkontantplanne aan die Lang- en Korttermynversekeringswette onderworpe is. Verskillende produkte het dus hul eie reëls, voordele en regulasies. Sommige gesondheidsorgverskaffers, soos Sanlam gesondheidsorgkonsultante, kan egter die hele pakket aanbied – van advies oor gesondheidsorg en mediese skema-opsies tot gapingsdekking.

Die volgende gesondheidsprodukte is noodsaaklik. Jou gesondheidsorgbehoeftes en bekostigbaarheid sal jou produkkeuses beïnvloed. ’n Omvattende opsie is dikwels die wenslikste, en jou behoeftes mag dalk lei tot ’n besluit om uitgebreide voorskriflyste en prostesevoordele, tandheelkunde, oogkunde of gespesialiseerde kosmetiese prosedures laer op jou prioriteitslys te plaas.

Indien jy ’n beperkte begroting of beperkte gesondheidsorgbehoeftes het, kan jy moontlik
die volgende oorweeg:

  • Primêre gesondheidsorgversekering gee jou toegang tot ’n wye verskeidenheid mediese diensverskaffers wat na jou daaglikse gesondheidsorgbehoeftes sal omsien. Dit kan dalk die risiko van hospitalisasie en chroniese siektes beperk.
  • Gapingsdekking kan die verskil dek tussen wat mediese diensverskaffers moontlik mag vra en wat die mediese skema betaal wanneer jy in die hospitaal opgeneem word.

Betaal vir wat jy nodig het. Party mense registreer die hele gesin vir die duurste opsie ter wille van gemoedsrus en betaal derhalwe dalk vir voordele wat hulle nie werklik nodig het nie. Dit beklemtoon weer hoe belangrik dit is om jou mediese dekking jaarliks te hersien. Mens kan dalk gesinslede met groter gesondheidsorgbehoeftes op ’n aparte plan registreer en só verhoed dat die hele gesin meer betaal vir voordele wat jy net vir enkele gesinslede benodig. Gesels met jou gesondheidsorgadviseur oor die beste opsies vir jou individuele behoeftes.

Most Read

Sanlam Life Insurance is a licensed financial service provider.
Copyright © Sanlam