Skip Ribbon Commands
Skip to main content

Deesdae is selfdoen die in-ding en daar’s min wat mens nie kan navors en op jou eie kan aanpak nie. Met die internet tot ons beskikking, is dit ook nie vreemd dat mense selfs geneig is om hulle finansiële sake te probeer “DIY” nie, sê Lee Hancox, Hoof van Kanaal- en Segmentbemarking by Sanlam. Dis egter hier waar mens versigtig moet trap, waarsku sy.

Hier’s wat jy behoort te doen én wat jy liefs
nié moet doen nie, wat geldsake betref:

  1. Stel self jul beloftes op, maar nie die huweliksvoorwaardekontrak nie.
    Wat kan meer romanties wees om jul eie huweliksbeloftes neer te skryf? Raadpleeg egter die deskundiges oor ’n huweliksvoorwaardekontrak. ’n Prokureur en ’n finansiële tussenganger kan help verseker dat die kontrak vir albei partye billik is en alle regsaspekte dek.
  2. Doen jou eie belastingopgawes, maar los ingewikkelde belastingtake vir die kundiges.
    Jou belastingopgawes kan eenvoudig genoeg wees om self te doen. Belastingsake kan egter vinnig ingewikkeld raak. Weet jy byvoorbeeld hoe om die maksimum belastingaftrekkings te kry as jy kommissie verdien; en hoe om jou boedel te struktureer sodat dit belastingdoeltreffend is, of om ’n buitelandse testament vir buitelandse erflatings op te stel om belasting te verminder? Dis alles scenario’s waar advies regtig kan help.
  3. Jy’t ’n splinternuwe sake-idee. Kry nou kundige hulp om die besigheid op die been te bring.
    Beplan jy om as ’n alleeneienaar, of as ’n maatskappy of ’n vennootskap sake doen? Wat is die belastingdoeltreffendste manier om ’n nuwe besigheid te struktureer? Sal jy vir BTW geregistreer wees? Hoe verdeel jy jou persoonlike finansies en dié van die besigheid? Watter voordele sal jy vir jou personeel aanbied? ’n Besigheidsafrigter, finansiële adviseur, boekhouer of prokureur kan heelwat waarde toevoeg.
  4. Visualiseer jou droomaftrede, maar moenie self die plan probeer saamstel om daar te kom nie!
    Die Sanlam 2018 Benchmark™-verslag het getoon dat 85% van Suid-Afrikaners wat aftree nie die lewenstandaard sal kan voortsit wat hulle tydens hul werkloopbaan gehad het nie. Stel ’n volledige prentjie saam van hoe jy jou aftreejare wil deurbring. Besef egter dat ’n suksesvolle aftrede ’n ernstige langtermynplan verg wat by jou persoonlike behoeftes, doelwitte en risikoprofiel pas.
  5. Moenie jou egskeiding self probeer hanteer nie.
    Moet nooit ’n egskeiding net so vinnig as moontlik uit die pad probeer kry nie. Gebruik jou tyd om alles te deurdink – soos jou kind se opvoeding, onderhoudsbetalings wat in ooreenstemming met jaarlikse inflasie toeneem, waar jy woon, ens. – en werk saam met ’n prokureur en finansiële tussenganger om te verseker dat alle reëlings billik is.
  6. Moenie self jou testament probeer opstel nie.
    Testamente kan ingewikkeld wees. Jy kan byvoorbeeld jou bates toeken sonder om te dink aan die skuld wat eers vereffen moet word. Daar is ook oorwegings soos hoe om boedelbelastingvoordele te benut, en seker te maak dat daar na jou kinders omgesien sal word. Regsdokumente moet hiervoor opgestel word, so betrek ’n prokureur en finansiële tussenganger en maak seker!

Most Read

Sanlam Life Insurance is a licensed financial service provider.
Copyright © Sanlam