Skip Ribbon Commands
Skip to main content

Invest

Advice

Service

Invest Online Back

Call me back

Email us

Back

Call me back

Email us

Email us

Skip Navigation LinksMedia Centre

My Grootste Spyt Oor Geld... En die Les Wat Ek Geleer Het

7 Maart 2019

Gestel jy kon sien hoe jou toekoms lyk en enige geldfoute van die toekomstige jy verhoed. In hierdie artikel deel 60- en 70-plussers hul lewenslesse met jou, sodat jy nou oordeelkundige finansiële besluite kan neem.

"Moenie vasgevang raak in jou besittings nie"

In haar 60’s: Elsa Krüger, joernalis/redakteur en stigter van die skoonheidsblog Mooipraatjies met Elsa

"My grootste spyt oor geld gaan oor 'goed’. My ouma het in die jare van die Groot Depressie grootgeword. Sy het alles opgegaar – selfs leë sardiensblikkies, omdat dit "dalk weer gebruik kan word". Met die gevolg dat ek ’n opgaarder geword het. Dit het my ’n gevoel van sekuriteit gegee. Ek het uiteindelik vasgevang geraak in my besittings.

"Die les wat ek geleer het? As jy dit nie gebruik nie, raak ontslae daarvan. Alles het ’n raklewe en raak in onbruik, behalwe geld in die bank. Jou kosbare goedjies is maar min werd wanneer jy die dag begin afskaal vir aftrede. Kry professionele advies vir jou aftree- en beleggingsbeplanning sodra jy begin verdien.

"Ek is ook bitter spyt dat ek nie reeds in my vroeë 30’s ’n goeie, eerlike finansiële beplanner aangestel het nie. Ek het eenkeer toegelaat dat ’n finansiële beplanner by my bank my spaargeld in ’n dreinerende effektetrustskema 'belê’. Ek het R40 000 verloor – in 1992 was dit baie geld.

"Ek is spyt ek het my laat ompraat om verskillende versekeringspolisse te koop, wat op die ou end swak besluite was omdat ek nie die fyner bepalings gelees het nie. Ek het my nie met genoeg kennis toegerus nie maar 'adviseurs’ vertrou wat geld gemaak het uit my."

"Kry beheer oor jou finansiële toekoms"

In sy 60’s: Freddy Masinga, sakeontleder

"Toe ek begin werk het, was dit nog in die apartheidsera en swartmense se lewensomstandighede was moeilik. Dit was letterlik ’n geval van leef van die hand in die tand. Daarom is ’n spaarkultuur vir my heeltemal vreemd.

"Ek sou graag so vroeg as moontlik wou begin spaar en belê het – onder andere in eiendom – maar dit was weer eens nie moontlik nie as gevolg van wetlike beperkings. Daarom beskou ek die feit dat ek nie genoeg vir hierdie tipe belegging kon spaar nie, as my grootste geldelike teleurstelling.

"Ek is net so dankbaar dat dit nou iets van die verlede is en dat alle Suid-Afrikaners hul eie lot kan bepaal, ongeag kleur of geloofsoortuiging, en beheer oor hul geldsake en spaar kan hê."

"Wees geduldig: gee jou spaargeld en beleggings tyd om te groei"

In sy 60’s: Henry Jeffreys, voormalige koerantredakteur

"Daar is heelwat geldsake waaroor ek spyt is, maar my grootste spyt is dat ek aandele te vroeg verkoop het. Ek het eenkeer ’n hele klompie aandele in Sanlam en ’n paar ander maatskappye gehad. Aangesien ek te vroeg verkoop het, het ek die voordele van groei in aandeelpryse en dividendbetalings misgeloop.

"My grootste fout was egter om aandele te verkoop wat ek teen ongeveer R100 per aandeel gekoop het, wat vandag teen ’n verstommende R3 000 per aandeel verhandel! As ek maar net toe besef het dat ’n belegging in aandele nie ’n 100 meter-naelloop is nie. As jy die volle beloning wil kry, moet jy dit soos ’n marathon aanpak en dit oor ’n lang tydperk hou.

"Agterna beskou, moes ek eintlik ook vir ons wittebrood gespaar het. Ons het met ons eerste kredietkaart daarvoor betaal. Na ons terugkeer was ons vir die eerste drie jaar van ons huwelik in die skuld, met ’n astronomiese rentekoers van omtrent 30%. Dit het ’n wonderlike vakansie van twee weke in Mauritius ’n bietjie glans laat verloor, terwyl dit ons duisende rande gekos het. Die herinneringe bly egter onoortreflik."

"Beplan vir die ergste – selfs wanneer dit onwaarskynlik lyk"

In haar 70’s: Janet Jacobs, jare lange weduwee en pensioenaris

Min het Janet Jacobs, weduwee van Mosselbaai, geweet hoe belangrik goeie boedelbeplanning is toe sy op die jong ouderdom van 48 ’n weduwee geword het.

"In daardie jare het almal aanvaar dat ’n vrou binne 10 jaar na haar man se dood weer sou trou. In my geval het dit nie gebeur nie, en 28 jaar later is ek nog steeds alleen. Hierdie scenario is ongelukkig nie genoeg in ag geneem met boedelbeplanning nie – en vandag besef ek hoe belangrik dit is! ’n Enkele ontbrekende sin kan jou wederhelf se aftrede laat ontspoor, en die persoon heel moontlik ook nog met ’n hoë uitstaande verband en ander koste opsaal.

"Nog iets waaroor ek spyt is, is dat ek te maklik my uitkeerpolisse afgekoop het, al was die opbrengste nie naastenby soveel soos vooruitgeskat is nie. En terwyl ons beplan en belê, is ons geneig om te vergeet van chroniese siektes later. Voor jy jou kom kry, is jou mediese voordele uitgeput, en sit jy met yslike mediese rekeninge. Ek het nooit gedink dit kan met my gebeur nie, want ek was altyd baie gesond toe ek jonger was.

"As ek my lewe kon oorhê, sou ek eerder in twee of drie nuwe eiendomsontwikkelings belê het. As jy direk by ’n ontwikkelaar koop, is daar geen oordragfooie nie. Deur seker te maak dat jy goeie huurders het, sal jy ook ekstra inkomste hê om vir allerhande dinge te spaar. En soos die waarde van jou eiendom heel waarskynlik mettertyd toeneem, sal jou maandelikse inkomste ook toeneem."

"Wees versigtig wie jy vertrou – win altyd professionele, hoogaangeskrewe advies in"

In haar 70’s: Mercia Hattingh, afgetrede modeontwerper

"My grootste spyt oor geld het gebeur in ’n tyd toe ek emosioneel baie kwesbaar was. Op daardie stadium was ek heel tevrede met my finansiële situasie, en toe daar ’n beleggingsgeleentheid opduik wat skynbaar my finansiële sekuriteit ’n sterk hupstoot sou gee, het ek dit aangegryp.

"Die aanbod van ’n 'lonende belegging’ het gekom van iemand wat na aan my was en wat ek gedink het ek kon vertrou. Ongelukkig het dit toe nie so uitgewerk nie. Ek het nie net my finansiële sekuriteit verloor nie, maar ook my huis. Dit was ’n geweldige terugslag en dit het my drome om deur die wêreld te reis verpletter.

"Dit het my geleer ’n mens moet nooit kontant gebruik vir iets of iemand wat jy gedink het jy 100% kan vertrou nie – raadpleeg liewer ’n ervare gesertifiseerde finansiële beplanner met ’n bewese prestasiegeskiedenis.

"Gelukkig is hierdie hartseer ervaring iets van die verlede, en ek is bevoorreg om saam met my nuwe man baie plekke in die wêreld te sien."

Gereed om jou finansiële toekoms te beveilig? Gesels met ’n gekwalifiseerde finansiële beplanner om die beste opsies vir jou behoeftes te identifiseer. En onthou: as ’n Sanlam Reality-lid kan jy tot 100% afslag op primêre batebestuursfooie by Sanlam Investments se vlagskipfondse kry. Klik hier vir meer inligting besoek www.sanlamreality.co.za.

Invest

Advice

Service

Invest Online Back

Call me back

Email us

Back

Call me back

Email us

Email us

Sanlam Life Insurance is a licensed financial service provider.
Copyright © Sanlam