Skip Ribbon Commands
Skip to main content

Invest

Advice

Service

Invest Online Back

Call me back

Email us

Back

Call me back

Email us

Email us

Skip Navigation LinksMedia Centre

Vyf Stappe om Finansiële Veerkrag te Verkry

10 Junie 2019

Finansiële veerkrag is die vermoë om u geldsake te laat klop en by u spaardoelwitte te hou, selfs wanneer die onverwagte gebeur. Glo u u huidige spaar- en bestedingsgewoontes sal werk, kom wat wil? André Wentzel, Oplossingsbestuurder vir Herhalende Spaarprodukte by Sanlam, moedig u aan om ses wesenlike vrae te beantwoord.

Kan u ’n Finansiële Noodgeval Hanteer?

U spaar miskien getrou vir u aftrede en u kinders se studie, maar is u voorberei op onvoorsiene gebeurlikhede? As u nie ’n finansiële buffer het nie en ’n finansiële terugslag kry, sal u u finansiële verpligtinge kan nakom sonder om te raak aan die geld wat u vir ander doelwitte gespaar het?

Die doel van ’n noodfonds is om u te help om so vinnig as moontlik ná ’n onvoorsiene finansiële uitgawe te herstel. Die algemene riglyn is om die ekwivalent van minstens drie tot ses maande se uitgawes te probeer spaar, maar dis nie altyd toepaslik nie. As u byvoorbeeld u werk verloor en in ’n bedryf is waar u vaardighede in aanvraag is, is die kanse goed dat u binne drie tot ses maande nuwe werk sal kry en weer sal begin verdien. As u egter u werk verloor weens ’n kwessie wat die hele bedryf raak, kan dit langer neem. Om redes soos hierdie hang die ideale bedrag van u persoonlike risiko’s en omstandighede af.

Is daar Besteding wat u kan Uitstel?

Nog ’n manier om u finansiële veerkrag te verbeter, is om u denkwyse oor geld te verander. Een benadering is om spaar as uitgestelde besteding te beskou. Deur nie nou te bestee nie en liewer ’n noodfonds op te bou, stel u besteding uit tot later, wanneer u dalk uitgawes gaan hê wat u nie verwag het nie. Dit stel u beter in staat om hierdie uitgawes te dek sonder om in ’n finansiële verknorsing te beland.

Verstaan u u Verbruikspatrone?

As u verstaan hoe spaar en skuld u finansiële veerkrag beïnvloed, kan u beheer oor u finansiële posisie uitoefen. Wanneer u met u kredietkaart betaal en skuld aangaan, gebruik u eintlik nou iets waarvoor u later sal moet betaal. As u gebruik vervroeg en skielik ’n onbeplande uitgawe het, plaas u u finansiële veerkrag onder druk, omdat u nog steeds moet betaal vir die item wat u reeds gebruik het. U sal nie ’n keuse hê nie.

Sekere tipes verbruik is vas, soos u verband of huurgeld. Dit is lewenskoste waaroor u geen diskresie het nie. Daar is ander tipes verbruik, soos aankope van luukse artikels, waaroor u wel diskresie het. Wanneer u u kredietkaart gebruik om vir hierdie artikels te betaal, gebruik u hulle voordat u die geld het om daarvoor te betaal – en verander u iets wat ’n diskresionêre uitgawe kon wees in ’n vaste uitgawe. Gedagtig hieraan, probeer om onnodige skuld te vermy.

Oorweeg u u Ondersteuningstrukture?

In die Suid-Afrikaanse konteks het u ondersteuningstrukture ’n invloed op u finansiële veerkrag. As u die broodwinner in die gesin is, moet u vir u (verwagte en onverwagte) uitgawes asook vir die finansiële behoeftes van u afhanklikes beplan.

Aan die ander kant ontvang u miskien finansiële bystand van iemand anders, in welke geval ’n noodgeval miskien nie sommer met u sal gebeur nie, maar eerder met die persoon wat u finansieel bystaan. Dit is noodsaaklik dat u hierdie risiko’s verstaan en u ondersteuningstrukture in ag neem wanneer u u geldsake beplan.

Moet u met ’n Finansiële Adviseur Gesels?

Een van die groot voordele van professionele advies is dat dit ’n objektiewe perspektief gee, wat altyd waardevol is, ongeag of u u geldsake beplan of ’n noodgeval hanteer. Albei kan oorweldigend en ’n emosionele ervaring wees. Gereelde ontmoetings met ’n kundige finansiële adviseur kan u help om u maandelikse uitgawes meer oordeelkundig te bestuur, ’n goeie begrip van u risiko’s te kry, vir noodgevalle te spaar en u finansiële veerkrag te verbeter.

Invest

Advice

Service

Invest Online Back

Call me back

Email us

Back

Call me back

Email us

Email us

Sanlam Life Insurance is a licensed financial service provider.
Copyright © Sanlam