Skip Ribbon Commands
Skip to main content

Invest

Advice

Service

Invest Online Back

Call me back

Email us

Back

Call me back

Email us

Email us

Skip Navigation LinksMedia Centre

Speel Oop Kaarte met u Versekeraar

10 Junie 2019

Bongi het onlangs versekering by ’n versekeraar aangegaan en versuim om te noem dat sy 10 jaar gelede in ’n motorongeluk betrokke was.

In die ongeluk het sy gebreekte ribbebene, skade aan haar rugwerwel en ’n sweepslagbesering opgedoen, maar aangesien dit ’n dekade gelede gebeur het, het sy nie gedink dis belangrik om dit aan haar makelaar of versekeraar te noem nie. Bongi het die afgelope jaar kwaai rugpyn ondervind en na besoeke aan verskeie spesialiste, het ’n ortopeed ’n rugoperasie aanbeveel vir ’n latente besering. Bongi kon nie meer haar werkverpligtinge nakom wat volle mobiliteit vereis het nie. Bongi se versekeringsmaatskappy het nou haar ongeskiktheidseis afgewys weens die nie-openbaarmaking van haar ongeluk.

Met Bongi se verhaal kom die kwessie van nie-openbaarmaking ter sprake. Alhoewel lewensversekeraars die meeste eise erken, kan selfs die klein getal afwysings vermy word deur eenvoudige stappe te volg wat die versekeraar in staat stel om ’n volledige prentjie van ’n kliënt se risiko te kry, sê Petrie Marx, Produkaktuaris by Sanlam Individuele Lewens.

“Versekeraars is daar om kliënte gemoedsrus te gee en eise te betaal. Die maandelikse premie wat kliënte betaal, berus op die versekeraar se beoordeling van die kliënt se risiko. Om dit te bepaal, moet kliënte inligting oor hul sowel as hul gesinslede se mediese geskiedenis, hul werk, stokperdjies, ens. bekend maak,” sê Marx.

Op dié manier word ’n billike prys en uitbetaling uiteindelik op die egtheid van hierdie openbaarmaking gegrond. Maar wat gebeur as u ’n spesifieke insident of iets onthou wat u nie uit die staanspoor bekend gemaak het nie? Die volgende wenke kan help om moontlike afwysing van eise te vermy.

Moenie die Aansoekproses Aanjaag nie

Bitter min mense hou daarvan om vorms in te vul, en daarom is die versoeking groot is om die vrae so vinnig as moontlik deur te werk sonder om behoorlik daaroor na te dink. Versekeringsvorms kan uiteraard baie lank wees, as gevolg van die wye omvang van die inligting wat ingesamel moet word. Benader hierdie proses met erns en gee dit die aandag wat dit verdien, om nie later te besef u het uiters belangrike inligting weggelaat wat uiteindelik die uitbetaling van eise deur u versekeraar negatief kan beïnvloed nie.

Familiesake

Versekeringsvorms kan vereis dat u inligting omtrent u familie se mediese geskiedenis bekend maak. Dis die moeite werd om met die familie hieroor te gesels, omdat u miskien nie al die feite ken nie. As u moeder byvoorbeeld vroeër in haar lewe kankerbehandeling gehad het en u dit nie noem nie, kan dit vir u problematies wees indien u ook so ’n diagnose kry en by u versekeraar moet eis. Die uitsondering sal wees as u eerlik nie van ’n vorige mediese toestand bewus was nie.

Liewer Laat as Nooit

As u later iets in verband met u gesondheid of mediese geskiedenis onthou wat u nie aanvanklik genoem het nie, of gevaarlike werkbedrywighede of ’n gevaarlike stokperdjie het, moet u dit onder u versekeraar se aandag bring sodat hulle ’n billike en ingeligte besluit oor die aanvaarding en prys van die risiko kan neem. Dis belangrik om in gedagte te hou dat daar aanpassings aan u dekking kan wees, soos ’n verminderde dekkingsbedrag, belading van u maandelikse premie, uitsluitings, en in uitsonderlike gevalle ’n kansellasie van die polis.

Vra Vrae en Gebruik ’n Finansiële Beplanner

Daar’s nie ’n dom vraag wat versekering betref nie. Gebruik dus die kundigheid van ’n geakkrediteerde finansiële beplanner wanneer u risikodekking koop, om te verseker dat u die voorwaardes van u dekking verstaan, insluitend u plig om wesenlike feite bekend te maak, en wat die gevolge is as u dit nie doen nie. As u onseker is of ’n bepaalde kwessie of inligting wesenlik is of nie, is dit altyd beter om dit met die versekeraar uit te klaar, as om op aannames staat te maak. Versekeraars is verplig om risiko’s billik te beoordeel. Hulle sal nie inligting gebruik om op onbillike wyse teen u te diskrimineer nie. Vertel dus u finansiële beplanner of versekeraar van u motorfietswedrenne of vlerksweefstokperdjie. Spyt kom altyd te laat.

Versekeraars het akkurate inligting nodig vir die beoordeling van die risiko wat hulle moet dra wanneer iemand om dekking aansoek doen. ’n Belangrike faktor om te onthou, is dat die persoon wat om versekering aansoek doen ’n openbaarmakingsplig het volgens Suid-Afrikaanse wetgewing wat versekeringstransaksies beheer. Versekeraars hoef slegs inligting wat hulle ontvang te goeder trou te aanvaar, en hulle het geen plig om enigiets te ondersoek wanneer u om dekking aansoek doen nie. Die verantwoordelikheid rus dus op u. Moenie die fout maak om belangrike feite weg te laat wat u dekking in die gedrang kan bring wanneer u of u gesin dit die nodigste het nie.

Invest

Advice

Service

Invest Online Back

Call me back

Email us

Back

Call me back

Email us

Email us

Sanlam Life Insurance is a licensed financial service provider.
Copyright © Sanlam