Skip Ribbon Commands
Skip to main content

Invest

Advice

Service

Invest Online Back

Call me back

Email us

Back

Call me back

Email us

Email us

Skip Navigation LinksMedia Centre

Hoe Lyk Suid-Afrikaners se Spaarsituasie?

1 Augustus 2019

President Ramaphosa het onlangs in sy staatsrede aan die land verslag gelewer oor die vordering om ons nasionale doelwitte te bereik. Hy het ’n nugter blik gegee op die uitdagings waarmee ons reënboognasie nou te kampe het, en wat ons op die pad vorentoe moet trotseer.

Kom ons kyk ’n oomblik na die rol wat ons as individue kan speel om ons land te help om hierdie doelwitte te bereik, deur elke maand te spaar en te belê wat ons ook al kan. Makro-ekonome verwys dikwels na die volgende positiewe kringloop in ekonomiese ontwikkeling:

Spaarfondsbeleggings > belegging stimuleer groei > groei maak groter spaarpogings moontlik wanneer mense meer inkomste genereer.

Die Nasionale Ontwikkelingsplan (NDP) weerspieël ook hierdie sentiment, terwyl beleidsbepalers inklusiewe groei as van die grootste belang beskou om armoede uit te skakel en ongelykheid te verminder.

Die dryfkrag vir groei deur belegging kan van verskeie bronne afkomstig wees – insluitend individue en huishoudings, maatskappye in die privaat sektor, buitelandse beleggers en die regering. Ons het egter vir die vyfde agtereenvolgende kwartaal ’n afname gesien in die privaat sektor se gewilligheid om langtermynbeleggings aan te gaan (soos gemeet deur bruto kapitaalvorming). Dit beteken sake-eienaars herbelê nie soveel winste in hul ondernemings soos hulle in die verlede gedoen het nie. Dít, tesame met die huidige begrotingstekort, beteken dat Suid-Afrika steeds toenemend op beleggings vanuit die buiteland sal moet staatmaak, óf ons as individue en huishoudings sal ’n groter bydrae moet lewer.

Om die waarheid te sê, het ons tot dusver nie so goed gevaar nie. Die persentasie van inkomste wat Suid-Afrikaners spaar (met ander woorde, die bruto binnelandse spaarkoers), het deurentyd afgeneem en einde verlede jaar ’n rekordlaagtepunt bereik. Die netto huishoudelike spaarkoers (die bedrag wat huishoudings spaar minus die skuld wat hulle aangaan) is al sedert die middel-2000’s feitlik nul of selfs negatief.

Bring U Kant

Hoe kan u binne hierdie konteks u kant bring om hierdie tendens om te keer?

  1. Kyk krities na u bestedingsgewoontes en begin spaar. Spaar is besteding wat uitgestel word. Is daar sekere kopies wat uitgestel kan word? Die vervanging van ’n motor of selfoon is byvoorbeeld ’n uitgawe wat kan wag. Moenie dat die behoefte aan onmiddellike beloning u en die Suid-Afrikaanse ekonomie verhoed om vooruitgang te maak nie.
  2. As u wel spaargeld het, wend dit goed aan deur dit te belê. Wanneer u ook al belê – of dit nou in effektetrusts, die JSE of ’n direkte belegging in ’n privaat onderneming is – oorhandig u u spaargeld aan iemand anders wat die fondse nodig het om iets voort te bring of te skep. U spaargeld word aan die werk gesit en u beloning is om te deel in die wins wat behaal word. En boonop word werksgeleenthede in die proses geskep.
  3. As u belê, kry ’n langtermynsiening. Baie beleggers is senuagtig oor die beleggingsgeleenthede wat tans beskikbaar is en party vertrou nie die markte nie as gevolg van die ineenstortings wat ons in die onlangse verlede gesien het. Vir langtermynbeleggers is dit egter net klein, kortstondige afwykings. Terwyl lewenskoste voortdurend styg, is die enigste manier om inflasie te klop om ’n mate van beleggingsrisiko aan te gaan. Goeie beleggers word beloon as hulle die korttermynskommelinge van die mark geduldig trotseer. Maak net seker dat u bates gediversifiseer is, met die doel om die onbestendigheid van u portefeulje oor die lang termyn te verminder.
  4. Slaan munt uit die aansporings wat deur die regering aangebied word. Ekonome meet die stand van Suid-Afrika se spaarsituasie aan drie komponente: 1) historiese spaarfondse (hoeveel ons oor ’n tydperk gespaar het); 2) nuwe spaarvloei; en 3) hoe aantreklik die spaaromgewing is. Dit is nie verbasend dat die eerste twee komponente mettertyd agteruitgegaan het nie. Die omgewing het egter oor die afgelope dekade verbeter met die instelling van spaarinstrumente soos belastingvrye spaarrekeninge en kleinhandelsbeleggingseffekte, asook groter belastingaansporings vir aftreespaarfondse.

Daar was nog nooit ’n beter tyd as nou om vir u eie finansiële sukses oor die lang termyn te begin nie, terwyl u ook u kant bring om plaaslike ekonomiese groei te ondersteun.


Invest

Advice

Service

Invest Online Back

Call me back

Email us

Back

Call me back

Email us

Email us

Sanlam Life Insurance is a licensed financial service provider.
Copyright © Sanlam