Skip Ribbon Commands
Skip to main content
Veggies

Ons kan nie meer in die toekomstige tyd van kunsmatige intelligensie (KI) praat nie: dis hier en dis besig om die wêreld te verander. Besigheidsintelligensie- en ontledingsprosesse word vinnig geoutomatiseer. Daar word verwag dat chirurgie met robotsteun die uitkoms vir pasiënte sal verbeter. Nuwe besighede in masjienleer word in Suid-Afrika en regoor die wêreld geloods met die uitdruklike doel om hierdie tegnologie na tot dusver onbetrede terrein uit te brei.

Dit word revolusionêr genoem en dit voldoen in werklikheid aan die verwagtinge. KI is egter die slagoffer van sy eie sukses in sekere opsigte. Dit is so transformerend dat sommige professionele persone bang is dat dit hulle sonder werk sal laat.

Dit is ʼn geldige vrees, maar ietwat misplaas. Ten beste is KI ʼn hulpmiddel vir die moderne werker. Indien dit behoorlik in ʼn korporatiewe omgewing geïntegreer is, behoort die menslike werknemer daarby te baat.

As jy ʼn besigheid bedryf, kan jy dit soos volg tot jou voordeel aanwend.

Oorbrug die Kennisgaping

Om KI te verstaan, moet jy KI ken – en dit kan moeilik wees in Suid-Afrika. Christine van der Mescht van NMRQL Research betoog dat “…toegang tot plaaslike datastelle, swak datagehalte en -sekuriteit, die gereedheid van die werksmag en heropleiding vir groot data-insigte” probleemgebiede bly – versterk deur ʼn inherente wantroue van nuwe tegnologie en oormatige vertroue op ou tegnologie.

Nietemin behoort die opskerp van jou kennis van KI en die toepassings daarvan ʼn duidelike prioriteit te wees. Wolkprogrammatuur, byvoorbeeld, geniet wye – en steeds wyer – aanvaarding. Microsoft het in 2018 twee Azure-datasentrums in Suid-Afrika oopgemaak en waar Microsoft gaan, volg ander dikwels ook.

KI: Die Toekoms Is Nou

Die voordele van KI moenie onderbeklemtoon word nie. Herhalende, tydrowende handprosesse wat waardevolle werknemers van hulle kernpligte wegneem, kan geoutomatiseer en verbeter word. In die rekeningkundige funksie beteken dit geen verdere moeisame datavasleggings, rekonsiliasies of verifikasie van inligting nie. Die beste van alles is dat KI meer intelligent raak, hoe meer dit leer en berg – en dus toenemend doeltreffend en kragtig oor tyd raak.

Vir KI om in Suid-Afrikaanse besighede te gedy, moet dit egter op die regte tegnologiese infrastruktuur gebou word. Wolktegnologie bied juis dit.

Word KI-gereed

KI is gereed vir jou besigheid – jou besigheid moet dus gereed word vir KI. Ja, sommige werke sal dalk uitgedien raak, maar talle ander werke sal in hulle plek ontstaan; rolle met vereistes waaraan ons nog nie eens gedink het nie.

Intussen moet besighede gereed maak – en dit beteken nie om slegs KI te aanvaar nie, maar ook die wolkprogrammatuur wat die grondslag skep vir masjienleer en die insigte wat dit kan bied. Die eerste stap is om ʼn geskikte wolkverskaffer te identifiseer, wat ʼn robuuste platform vir die ontplooiing van KI kan voorsien; die tweede is om ʼn onbevange, digitaal-geletterde korporatiewe kultuur aan te kweek.

Indien KI-oplossings die blomme in die tuin is, is wolkinfrastruktuur die grond. Begin kweek!

In die wolk gebore, is Xero pragtige, maklik-om-te-gebruik rekeningkundige programmatuur waarvan besighede en hulle adviseurs baie hou. Sien self waarom Xero deur meer as 1.6 miljoen intekenaars wêreldwyd vertrou word.

Hierdie artikel is deur Colin Timmis, Lands- Hoofbestuurder: Xero SA en professionele rekenmeester geskryf.

Sanlam Life Insurance is a licensed financial service provider.
Copyright © Sanlam