Bestuur van Aftreefondse

Bestuur van Aftreefondse

Indien jy 'n aktiewe lid van 'n aftreefonds is, kan jy dalk verkies dat Sanlam Private Beleggings jou ledefondse persoonlik bestuur, mits jou bepaalde fonds natuurlik hierdie alternatiewe beleggingskeuse aan lede bied. Jy sal hiervoor die goedkeuring van jou Raad van Trustees benodig. Hierdie fondse kan deur die gekoppelde beleggingsplatform van Glacier Financial Solutions (Glacier) by Sanlam Private Beleggings geplaas word.

Lede van aftreefondse wat hul diens by 'n werkgewer beëindig het, kan hul fondse na 'n bewaringsfonds oordra wat regstreeks deur SPI bestuur word, mits dit as 'n beleggingsopsie beskikbaar is. Hierdie reëling is ook onderhewig aan die goedkeuring van jou Raad van Trustees.

Hierdie opsie is ideaal vir 'n belegger wat 'n portefeulje aandele en/of vasterente-instrumente verlang. Dit bied 'n uitstekende geleentheid vir kapitaalgroei, kapitaalbehoud en/of inkomste.

Inkomste by Aftrede

'n Glacier Beleggingsgekoppelde Lyfrente (Illa) kan met jou aftreefondsopbrengs aangekoop word. Voordele kan omskep word in 'n moeitevrye, gereelde, lewenslange inkomste en gepaste voorsiening vir begunstigdes maak.

Die Glacier Illa word gekoppel aan 'n beleggingsportefeulje bestaande uit verskeie beleggings. Die onderliggende beleggings bied die potensiaal vir kapitaalgroei en/of gewaarborgde inkomste, onderhewig aan wetgewende vereistes. Om die beste hieruit te haal, kan die Beleggingsgekoppelde Lyfrente met 'n konvensionele lyfrente gekombineer word om 'n gedeelte van die inkomste lewenslank te waarborg.

Bewaringsfondse

Indien jy lid van 'n bewaringsfonds is, kan jy jou aftreefondsopbrengs  -  indien dit 'n goedgekeurde pensioen/voorsorgfonds is  -  oordra na die Bewaringspensioenfonds of Bewaringsvoorsorgfonds wanneer jy die diens van jou huidige werkgewer verlaat.

Aftreegeld word op 'n belastingneutrale grondslag na hierdie fondse oorgedra. Diensjare verbonde aan die belegging bly behoue, dus kom jy vir volle belastingvoordele in aanmerking wanneer jy aftree.

As 'n lid kan jy moontlik een belasbare onttrekking voor aftrede doen, afhangende van wetgewing en onderhewig aan enige beperkings opgelê deur die oordraende fonds

Lede moet hulle aan die Bewaringspensioenfonds of Bewaringsvoorsorgfonds onttrek wanneer hulle by hul werkgewer aftree. Indien jy nie werk nie, kan jy op enige ouderdom tussen 55 en 70 jaar aftree.

By aftrede

  • Lede van 'n Bewaringspensioenfonds kan tot een derde van die opbrengs as 'n enkelbedrag neem nadat belasting van hierdie bedrag afgetrek is. Die res moet vir die aankoop van 'n lyfrente gebruik word.
  • Lede van 'n Bewaringsvoorsorgfonds kan tot 100 persent van hul opbrengs as 'n kontantenkelbedrag neem ná aftrekking van belasting. Voorbelaste opbrengs kan gebruik word om 'n lyfrente aan te koop

Ná aftrekking van belasting kan die enkelbedrag belê word in die Glacier Beleggingsplan wat die lid die opsie bied om aandele by sy portefeulje in te sluit. Die aandelekomponent van jou ledeportefeulje word volgens jou risikoprofiel deur Sanlam Private Beleggings bestuur. Sanlam Private Beleggings sal aandele namens jou koop, bestuur, verkoop en verhandel.

Beleggingsopsies

Die Bewaringsfonds fasiliteer die groei van kapitaal tot 'n potensieel groot neseier, aangesien jou aftreegeld belê word in 'n portefeulje bestaande uit 'n verskeidenheid beleggings. Daar is verskeie beleggingsopsies wat op gepaste wyse gekombineer kan word om by jou risikoprofiel en beleggingshorison te pas. Dit sluit in:
  • effektetrustbeleggings
  • genoteerde aandele en ander finansiële instrumente
  • produkte wat kapitaal beskerm

Die voordeel hiervan is dat die fondse ten volle voldoen aan die bepalings van Regulasie 28 van die Wet op Pensioenfondse van Suid-Afrika.

Content within this section: