Innovasietoekennings 2009

Sanlam Private Beleggings (SPB), die privaatkliëntsake in die Sanlam-stal, vier sy 10de bestaansjaar in 2009. Sentraal tot die vieringe is ‘n toekenningsveldtog vir studente wat uitsonderlike innovasie toon, ‘n eienskap wat ons as die kern van ons besigheid beskou. Die studente wat met die louere wegstap, sal dié wees wat die status quo in hul onderskeie studievelde uitdaag en vorendag kom met werklik unieke idees, gedagtes en konsepte wat nie net prakties is nie maar ook waarde toevoeg.

Die veldtog word van 1 Maart tot 31 Julie 2009 gevoer. Kontantpryse van R10 000 elk is op die spel vir 10 studente uit 10 verskillende kategorieë en hul profiele sal in verskeie Suid-Afrikaanse publikasies, ons kliëntnuusbrief en op ons webwerf verskyn. Ons is vol vertroue dat die toekennings die toekomstige sukses van hierdie uitsonderlike studente sal help verseker en ‘n groter belangstelling in hierdie kulturele, kreatiewe velde sal kweek.