Van Zyl is Sakeleier van die JaarKaapstad, 25 Augustus 2012 Dr. Johan van Zyl (56), uitvoerende hoof van Sanlam, is gisteraand as Die Burger en Kaapstad Sakekamer se Sakeleier van die Jaar aangewys.
Onder Van Zyl se leiding het Sanlam die afgelope dekade van ’n oorwegend Afrikaanse versekeringsmaatskappy ontwikkel tot ’n finansiëledienste-maatskappy met bedrywighede in die res van Afrika, Indië en belange in Australië, Europa en Brittanje. Van Zyl is ’n landbou-ekonoom en het eers uitgeblink as akademikus en rektor van die Universiteit van Pretoria voordat hy in 2001 die skuif na die sakewêreld gemaak het toe hy as hoof van die korttermynversekeraar Santam aangestel is. Hy het in 2003 hoof van Sanlam geword. Ton Vosloo, voorsitter van Naspers (wat in Sanlam se direksie gedien het toe Van Zyl aangestel is), het gesê hy is ’n uitstekende keuse as Sakeleier van die Jaar. “Daar was bedenkinge oor hoe ’n rektor nou ’n maatskappy kan lei, maar hy het dit uitstekend gedoen. “Hy het met sy aanstelling ’n padkaart uitgestippel van hoe hy Sanlam wou transformeer, en hy het by sy padkaart gehou – meer as wat van politici gesê kan word.” Adv. Fran du Plessis, ’n nie-uitvoerende direkteur van Sanlam, het gesê Sanlam het groot sukses onder Van Zyl se leiding behaal, “maar hy is die eerste een wat die eer aan sy span gee. Hy is beslis die kaptein van die span, maar hy eien niks aan homself toe nie”. Van Zyl is die derde Sanlam-hoof wat as Sakeleier van die Jaar aangewys is. Hy volg in die spore van Pierre Steyn in 1993 en dr. Leon Vermaak in 2002. Verlede jaar se sakeleier was die Dutoit-groep van Ceres. Dr. Bernie Fanaroff, direkteur van die SKA-radioteleskoopprojek in die Karoo, is terselfdertyd vereer as Ambassadeur van Suid-Afrika – ’n eretitel wat Die Burger en Kaapstad Sakekamer aan iemand toeken wat ’n uitnemende bydrae tot die uitbou van Suid-Afrika se beeld gelewer het. Fanaroff en sy span het vanjaar die bod gewen om die SKA in Suid-Afrika te bou. ’n Spesiale bylae oor die Sakeleier, die Ambassadeur asook ’n fotoblad oor die geleentheid verskyn Maandag in Die Burger. -Die Burger Content within this section: |
||||||
|
|
||||||


















