Click Here to Apply Daily Yields Fund Information

’n Geleentheid om jou geldsake deeglik te hersien

Na die ekonomiese warboel van die afgelope 18 maande stel verbruikers baie meer belang in hul geldsake. Hoe behoort verbruikers hul nuutgevonde finansiële bewustheid te benut? René Roux, hoof van Sanlam Liquid, het ’n paar voorstelle oor wat jou finansiële prioriteite in die huidige ekonomiese klimaat behoort te wees.

Vermy onnodige skuld

In ’n resessieklimaat is die laaste ding wat jy nodig het oormatige onnodige skuld, wat omskryf word as skuld wat aangegaan word om artikels te koop wat jy nie regtig nodig het nie, soos ’n platskerm-televisie en ander luukshede. Rentekoerse is tans op die laagste vlakke in 30 jaar. Volgens Suid-Afrikaanse standaarde was skuld baie jare laas so goedkoop. Moenie hierdie feit as ’n gerieflike verskoning gebruik om meer skuld aan te gaan as wat nodig is nie. Gebruik liewer die kans om meer skuld af te betaal. Wanneer rentekoerse daal, sal die terugbetalings op jou huis- of motorlening en ander skuld ook laer wees. As jy kan, gaan voort met dieselfde terugbetaling op die lening as wat jy betaal het voordat rentekoerse begin daal het. Op dié manier kan jy die kapitaalgedeelte van jou lenings baie vinniger afbetaal. ’n Goeie idee is om ’n begroting op te stel deur ’n lys te maak van jou maandelikse inkomste en uitgawes, en seker te maak dat jou inkomste die uitgawes met gemak dek. Sodra jy skuldvry is, sal jy daardie ekstra geld kan spaar.

Maak voorsiening vir rentekoersverhogings

As jy beplan om nog skuld aan te gaan (bv. om ’n nuwe huis te koop), doen jou sommetjies om te sien wat die terugbetaling gaan wees indien rentekoerse met byvoorbeeld vyf persent styg. Rentekoerse is siklies van aard, en al is hulle tans laag, sal hulle op ’n stadium waarskynlik weer styg. Jy wil nie in ’n situasie beland waar die rentekoersstyging so hoog is dat jy nie die skuldterugbetalings kan bekostig nie, en gevaar loop om jou huis te verloor nie. Die ideaal is dat jou begroting die verhogings in terugbetalings moet kan absorbeer wanneer hulle voorkom.

Spaar elke maand ietsie

Die rede hoekom jy so dikwels spaar, spaar, spaar hoor, is omdat dit regtig baie belangrik is. Dit moet eintlik ’n gewoonte wees om gereeld te spaar. As jy nie op die oomblik iets spaar nie, begin sommer onmiddellik om elke maand iets weg te sit, ongeag hoe klein die bedrag is. Moenie jouself kul deur te dink dat jy sal spaar “wat aan die einde van die maand oorbly” nie. In die meeste gevalle sal jy niks oorhê om te spaar nie. Reël ’n debietorder wat aan die begin van elke maand afgetrek word – dan is dit nie iets wat jy self elke maand hoef te doen nie. Nadat jy begin spaar het, probeer die maandelikse spaarbydrae verhoog elke keer wanneer jy ’n salarisverhoging of bevordering kry – hopelik minstens een keer per jaar. Dit is baie makliker om jou spaarbydrae te verhoog wanneer jy ’n salarisverhoging kry, want dan sal jy nie tyd gehad het om (onbewustelik) jou leefstyl by die addisionele inkomste in jou bankrekening aan te pas nie.

Kies ’n geskikte spaarmedium

Daar is ’n magdom finansiële instrumente beskikbaar vir mense wat maandeliks wil spaar, en die regte een vir jou sal afhang van jou persoonlike situasie, risiko-aptyt, spaartermyn, of jy toegang tot jou geld wil hê of nie, en jou drome. Sanlam Liquid is ’n reeks spaaroplossings wat jou in staat stel om bogemiddelde rente op jou korttermynspaargeld te verdien, terwyl jy nog steeds toegang tot jou geld het. Sanlam Liquid bied verskeie rekeninge om jou besondere behoeftes te pas. Die Sanlam Liquid Debietkaart-rekening kan vir onbeperkte daaglikse transaksies gebruik word. Hierdie rekening, wat aan die SIM Geldmarkfonds gekoppel is, bied aan rekeninghouers hoër opbrengste op kontant, wat andersins ongebruik in hul bankrekeninge kon gelê het. Daar is ook die Sanlam Liquid Spaarrekening vir diegene wat minder transaksies aangaan, en die Sanlam Liquid Vastetermynbelegging wat sterker op spaar en kapitaalgroei fokus.

Maak seker jou spaar-/bankrekeninge is geskik vir jou behoeftes

Kyk na jou spaar- en bankrekeninge en dink mooi na wat jy uit die rekening wil kry. Sodra jy weet wat jy wil hê ten opsigte van funksionaliteit, moet jy jou huiswerk doen en verskillende rekeninge vergelyk wat jou die funksionaliteit gee wat jy nodig het. Bepaal wat die koste-implikasies gaan wees – kyk na maandelikse fooie asook transaksiefooie en moenie jou deur “goedkoop” pakketfooie om die bos laat lei nie. Kry altyd ’n begrip van wat die pakket insluit en uitsluit, en doen dan jou berekeninge daarvolgens. Indien die rekening jou die funksionaliteit gee en die koste mededingend is, moet jy ook in ag neem wat jy op die geld in daardie rekening kan verdien. Kyk dus watter rentekoers jy op jou rekeningsaldo sal verdien. Sommige rekeninge bied geen rente nie, as gevolg van die transaksievermoëns wat hulle bied, terwyl ander nie al die transaksievermoëns bied wat jy dalk nodig het nie, hoewel die rentekoers ’n bietjie hoër is. Dan kry jy ook rekeninge wat al die transaksievermoëns bied wat jy nodig het, plus toegang tot jou geld en die beste rentekoers wat jy in die mark kan kry.

Skep ’n persoonlike finansiële plan met die hulp van ’n professionele adviseur

Die beste wat jy kan doen as jy nie seker is hoe om al die finansiële aspekte in jou lewe aan te pak nie, is om met ’n finansiële adviseur te gesels en hom/haar te vra om jou met jou situasie en toekomsbeplanning te help. Hierdie persoon sal jou dan die beste advies kan gee oor wat jou te doen staan, en hoe jy dit kan doen. Suksesvolle persoonlike finansiële beplanning is uiters belangrik vir enigiemand wat voor wil bly met hul geldsake. Moenie dink dat ’n finansiële plan net vir die welgesteldes bedoel is nie. Die meeste mense het tyd en beplanning nodig om hul finansiële doelwitte te bereik en welvaart op te bou. As jy nog nie ’n finansiële plan het nie, spring sommer nou weg en begin! Daar is baie professionele persone beskikbaar wat in persoonlike finansiële beplanning spesialiseer, ongeag wat jou huidige finansiële situasie is. Dit is baie makliker om finansiële dissipline toe te pas as jy spesifieke teikens in gedagte het. 


Sanlam Lewensversekering Beperk is ’n gelisensieerde finansiële diensverskaffer.

Content within this section: