Terwyl 2010, wat vir baie ’n moeilike finansiële jaar was, einde se kant toe staan, sal party gelukkiges ’n jaarlikse bonus ontvang. Aangesien die resessie nog steeds gevoel word, is dit uiters belangrik om enige ekstra geld in jou sak oordeelkundig te gebruik. In plaas van om jou bonus vinnig uit te gee, is die beste ding wat jy daarmee kan doen, om jou finansiële situasie te verbeter. Hier is ons 5 voorstelle:
1) Betaal jou skuld af
-
Ander skuld
Probeer om al jou duur skuld af te betaal, soos jou kredietkaart of persoonlike lenings. Enigiets wat op krediet gekoop word, kos jou uiteindelik baie meer as die oorspronklike prys – betaal dit dus af en bespaar op rente!
-
Huislening
As jy jou bonus gebruik vir ’n eenmalige betaling op jou huislening, sal jy mettertyd heelwat rente spaar. As jy byvoorbeeld R10 000 deponeer in ’n 20-jaarhuislening met ’n rentekoers van 9.5% per jaar, sal jy jou huislening vyf maande vroeër afbetaal en sal jy omtrent R50 000 op die rentebetalings bespaar het. Dis wat gebeur as jy dit net een keer doen. Dink net hoeveel jy sal spaar as jy elke jaar ’n deel van jou bonus in jou huislening inbetaal.
2) Belê vir ’n langtermyndoelwit
Het jy ’n spesifieke doelwit waarvoor jy moet spaar? Byvoorbeeld jou kind se studie, jou eie besigheid of jou aftrede? As jy ’n eenmalige bedrag in ’n geskikte beleggingsproduk belê – soos ’n studiepolis of ’n uitkeerpolis – sal dit jou help om daardie langtermyndoelwitte te verwesenlik.
3) Begin ’n noodfonds
Nog ’n idee is om ’n deel van die geld vir ’n noodfonds te gebruik. Die gedagte met hierdie fonds is dat jy spaargeld byderhand het vir enige onvoorsiene gebeurlikhede, soos ’n warmwatersilinder wat bars, of onverwagte siekte. Dit is raadsaam om minstens een en ’n half maande se salaris (of as jy nie ’n salaris verdien nie, dan een en ’n half keer jou onderliggende maandelikse inkomste) te spaar en geredelik beskikbaar te hê vir noodgevalle.
4) Belê vir die kort termyn
As jy voel dat jy jou nie tot ’n langtermynbelegging kan verbind nie, kan ’n spaarplan met ’n korter termyn die antwoord wees. Goeie beleggingsmediums is byvoorbeeld ’n geldmarkrekening of ’n Sanlam Liquid-rekening wat jou ’n goeie opbrengs op jou belegging sal gee terwyl jy nie die kontant nodig het nie.
5) Laat jou bonus vir jou aftrede werk
Sommige werkgewers gee jou die opsie om jou bonus by jou pensioengewende salaris in te sluit. Gewoonlik word jou bydraes op jou salaris bereken, maar as jy jou bonus daarby insluit, beteken dit dat die bydraes ook op jou bonus bereken sal word. Jy dra dus dan meer tot jou aftrede by. Dit kan nou miskien soos ’n opoffering voel, maar wanneer jy die dag aftree, sal jy nie net uit die addisionele bydraes voordeel trek nie, maar ook uit die opbrengste wat jy op hierdie bydraes verdien het.
Maar moenie vergeet nie – dis jou swaarverdiende geld. Gebruik dus ’n deel om jouself of jou gesin te bederf, of skenk ’n deel aan liefdadigheid. En terwyl dit dikwels moeilik is om in Januarie die begroting te laat klop, sit ’n deel van jou bonus hiervoor opsy.
Content within this section: