Click Here to Apply Daily Yields Fund Information

Ekonomiese kommentaar - 'n Sterk Boodskap

Die 2010 nasionale begrotingsrede het ’n sterk boodskap uitgestuur. Minister Pravin Ghordan se staatsmansbenadering, wat die inkoop van alle belangegroepe gevra het in die strewe na ‘n suksesvolle Suid-Afrika, het by tye na die werklike Staatsrede geklink. Die indruk wat ‘n mens gekry het, was dat die begroting die ooreengekome resultaat was van ’n proses wat daarop gemik is om seker te maak dat dit inderdaad die regering se beleidsprioriteite weerspieël en ondersteun. Dit is dus onwaarskynlik dat die parlement se nuut verkreë mag om geldwette te wysig, planne omver sal gooi.

Die begrotingsrede het dit duidelik gestel dat Suid-Afrika nie die probleem van armoede en ongelykheid deur herverdeling sal oplos nie. Die fokus was dus baie meer op die verligting van armoede deur werkskepping, wat weer afhang van gesonde ekonomiese groei en die nodigheid om opvoedingsuitkomste te verbeter ten einde billikheid ten opsigte van toegang tot ekonomiese geleenthede te bewerkstellig.

In my ekonomiese kommentaar van 3 Desember 2009 (“Die ontbrekende leitmotief”) het ek my radeloosheid met die verwarring in die debat oor ekonomiese beleid uitgespreek. Ek het ’n beroep op iemand in die regering gedoen om die leiding te neem en het voorgestel dat die strewe na ekonomiese groei as die leitmotief aanvaar moet word. Minister Ghordan het nou presies dit gedoen.

Wat betref die beleidsfilosofie wat in die begroting weerspieël word, het die Minister beïndruk met die mate van beleidskontinuïteit wat getoon is. Soos in die Oktober 2009 Mediumtermynbegrotingsraamwerk het hy groeibeleid gegrond op die belangrike verslag van die Wêreldbank se Groeikommissie, waarvan Minister Trevor Manuel lid is. Daar was geen teken van die gevreesde verskuiwing in makro-ekonomiese beleid nie en die debat oor die toekoms van inflasieteikenstellings is beëindig met die aankondiging dat die teiken onveranderd gaan bly en dat die Reserwebank steeds daartoe verbind is om aanpasbaar te wees in die najaag van die inflasieteikens (alhoewel dit beloof het om sy kommunikasie te verbeter!). Dieselfde kommentaar geld vir die weiering om die wisselkoers van die rand vas te pen.

Die Minister het die multidimensionele aard van talle die uitdagings waarvoor Suid-Afrika staan, beklemtoon, bv. die kwessie van internasionale mededingendheid en die nodigheid vir ’n multidimensionele beleidsbenadering om dit die hoof te bied. Enige twyfel oor wie vir makro-ekonomiese beleid in Suid-Afrika verantwoordelik is, is uit die weg geruim.

Soos verwag is, het die Nasionale Tesourie sy groeiverwagtinge opwaarts aangepas en sal ekonomiese groei in die volgende drie jaar na verwagting gemiddeld 0,5 persentasiepunte per jaar hoër wees. Alhoewel die aanpassings die regering se vooruitskattings nader aan die privaatsektorkonsensus gebring het, is dit steeds ietwat konserwatief, veral wat betref die vooruitsigte vir huishoudelike verbruiksbesteding. Inkomstevooruitskattings is nogtans nie opwaarts aangepas nie en die Minister het ’n verbasend toegeeflike benadering gevolg tot die vermindering van individuele inkomstebelasting.

Die tekortvooruitskattings vir die volgende paar jaar bly dus onveranderd in vergelyking met dié in die Mediujmtermynbegrotingsraamwerk van Oktober 2009. Weens die brose aard van die herstel is die regering duidelik nie haastig om die fiskale stimulus vir die ekonomie te onttrek nie.
Die meeste mense is nietemin verras deur die feit dat die verwagte begrotingstekort vir die huidige begrotingsjaar afwaarts aangepas is tot 7,3% van BBP in plaas van opwaarts as gevolg van ’n laer raming van waar staatsbestding sal eindig.

Die Nasionale Tesourie se frustrasie met die verhogings in die vergoeding van staatsamptenare wat die begroting oorskry en wat in die Mediumtermynbegrotingsraamwerk uitgespreek is, was weereens sigbaar. Die Minister het staatsamptenare gewaarsku dat toekomstige loon- en salarisverhogings beperk sal moet word om voorsiening te maak vir groter indiensneming in die owerheidsektor, bv. die beplande verhoging van 22 000 in die aantal polisiemanne. Die loonuitgawes van die openbare sektor sal nietemin verder styg tot ongeveer 7% per jaar in nominale terme of 1% in reële terme.

Die bedrag van R846 miljard vir infrastruktuursbesteding in die owerheidsektor wat in die Staatsrede genoem is, is bevestig, alhoewel dit interessant is om daarop te let dat dit R26 miljard minder is as wat in die Mediumtermynbegrotingsraamwerk aangedui is.

Die Minister het telkens verwys na die nodigheid om die styging in staatskuld in toom te hou ten einde ’n onnodige styging in skulddienskoste te vermy. Die verwagte hoogtepunt van 44% in die skuld-BBP-verhouding in 2014/15 blyk konserwatief te wees, en die skulddienskoste kan moontlik tot meer as die verwagte 3,4% van BBP toeneem. Selfs dan sal nie-rentedraende lopende uitgawes na verwagting oor die volgende drie jaar in reële terme daal, wat neerkom op ’n soort besuinigingspakket.

‘n Interessante weglating uit die begroting was enige verwysing na ‘n moontlik groter rol vir die regering in die finansiering van Eskom se kapasiteitsuitbreiding, terwyl die onverklaarde opwaartse aanpassing van die Nasionale Tesourie se inflasievooruitskatting dalk dui op berusting wat betref Eskom se tariefaansoek. Die feit dat die skerp styging in die brandstofheffing deels geregverdig word deur die behoefte aan die aanlê van ’n nuwe brandstofpyplyn van die kus na Guateng, lê in elk geval die beginsel vas dat dit vir die openbare nutsmaatskappye in orde is om kapitaaluitgawes deur tariefverhogings eerder as lenings te finansier.

Die indrukwekkendste eienskap van hierdie begroting is die sterk teken van kontinuïteit wat dit uitstuur. Suid-Afrika kan verseker wees dat sy staatsfinansies steeds in goeie hande is.

Content within this section: