Click Here to Apply Daily Yields Fund Information

5 Finansiële lewensfases van ouers

13 June 2011

Deur René Roux, hoof van Sanlam Liquid

Om kinders te hê is duur, maar met sorgvuldige beplanning en ’n goeie begrip van jou kinders se lewensfases, kan jy ’n sorgvrye finansiële reis saam met hulle aanpak. René Roux gee 5 finansiële wenke wat in hul verskillende lewensfases toegepas kan word.

Lewensfase 1: Swangerskap tot babajare

Die dag wat jy besluit om ’n ouer te word, is die dag om jou finansiële beplanning te begin. Daar is baie uitgawes om te dek voordat die baba gebore word, soos die voorbereiding van die babakamer, ’n stootwaentjie, mediese uitgawes en basiese benodigdhede soos babaklere en toiletware.

Nuttige wenk: Moenie jou kredietkaart te veel gebruik nie, en skuld buite beheer laat styg voordat die baba nog gebore is nie. Sit elke maand geld opsy vir ’n ‘babafonds’. As jy gedurende jou swangerskap elke maand R1 000 spaar, sal jy ’n ruim bedrag hê om die aanvanklike uitgawes te dek – en nie nodig hê om jou kredietkaart te gebruik en die rente te betaal wat met kredietkaartskuld gepaardgaan nie. Selfs nog beter – begin ’n babafonds sodra jy vir ’n baba begin beplan.

Lewensfase 2: Voorskools tot laerskool

Wanneer jou kinders die dag skool toe gaan, begin jy skoolgelde en ander verwante uitgawes betaal. Boeke, uniforms, buitemuurse aktiwiteite en uitstappies is ekstra onkoste wat gewoonlik nie by die skoolgelde ingesluit is nie. Met hierdie tegnies bedrewe generasie raak skootrekenaars al hoe nodiger in die klaskamer – vir skoolwerk of byvoorbeeld Powerpoint-aanbiedings. En jy sal tog wil hê dat jou kinders aan al die aktiwiteite deelneem sodat hulle kan uitvind wat hulle die meeste geniet en waarop hulle verder wil konsentreer. Toerusting vir hierdie stokperdjies kan duur wees. As jy en jou wederhelf of lewensmaat albei werk, sal jy waarskynlik jou kind by nasorg moet laat of ’n au pair moet huur. Al hierdie uitgawes kan ’n groot hap uit jou maandelikse inkomste neem.

Nuttige wenk: Gaan ’n studieplan aan wanneer jou kind nog jonk is. Hoe vroeër jy begin, hoe laer is die maandelikse bydraes, wat dit meer bekostigbaar maak. Hierdie geld kan gebruik word om hul skoolkoste en/of tersiêre opleiding te dek, of kan as ’n enkelbedrag geneem word wat hulle kan gebruik om ’n motor te koop of ’n onderneming te begin.

Lewensfase 3: Hoërskool

Kinders se uitgawes neem toe soos hulle ouer raak. Hul ‘speelgoed’, klere, boeke en skoolgelde raak duurder. Hulle raak ernstiger oor hul stokperdjies, en sporttoere, spanuniforms en opgegradeerde toerusting kan ekstra uitgawes word. Daar is ook meer skoolaktiwiteite soos karnavalle en uitstappies wat jy wil hê hulle moet meemaak, om ’n gebalanseerde en verrykende skoolloopbaan te hê.

Nuttige wenk: Wanneer jou kinders ’n bietjie ouer is, stel voor dat hulle los werkies doen om ekstra kontant te verdien wat hul ekstra aktiwiteite kan dek, of moedig hulle aan om ’n diens te lewer of iets by die plaaslike kunshandwerkmark te verkoop. Afgesien van die finansiële voordele, bring dit hulle ook subtiel met die werkomgewing in aanraking en ontwikkel hulle mensvaardighede.

Lewensfase 4: Tersiêre opleiding

Hulle is miskien tydelik uit die huis en universiteit toe, maar hul uitgawes is nog altyd daar! Uitgawes sluit koshuislosies of ’n woonstel (plus meubels) in, ’n motor of vervoer, vliegtuigkaartjies tydens universiteitsvakansies, boeke, en sakgeld vir klere, toiletware, kos en algemene lewenskoste (opsioneel). Die goeie finansiële gewoontes wat jy jou kinders van jongs af geleer het, sal hulle nou baat, omdat hulle self hul begroting moet bestuur en laat balanseer.

Nuttige wenk: Op hierdie stadium behoort hulle deeltyds te werk om ’n deel van hul eie uitgawes te dek. Deeltydse werk tydens hul studie is van onskatbare waarde. Hulle raak selfversorgend, kry selfvertroue en ’n begrip van geldsake, en dit help hulle om gebalanseerde, onafhanklike volwassenes te word en waardevolle werk- en lewensondervinding op te doen wat hulle goed te pas sal kom wanneer hulle hul werkloopbaan begin.

Lewensfase 5: Die werkomgewing

Net omdat jou kinders begin werk het, moenie aanvaar hulle gaan onmiddellik die huis verlaat nie. Aangesien hul beginsalaris waarskynlik maar laag is, sal hulle miskien besluit om so lank as moontlik by die huis te bly, of totdat hulle hul eie verblyf kan bekostig.

Nuttige wenk: Of jy nou die geld nodig het of nie, maak seker dat hulle 'huur' betaal (selfs al is die bedrag minimaal). Hierdie bedrag kan bydra tot kos en diverse uitgawes. Dit berei hulle voor vir die dag wanneer hulle die huis verlaat, en leer hulle die gewoonte aan om vir hulself te sorg.

Geniet die verskillende fases van jou kinders se lewe, want elke fase gaan vinnig verby en voor jy jou kom kry, is hulle uit die huis. Beplan vir elke fase om onnodige finansiële stres en bekommernis te vermy.

Sanlam Lewensversekering Beperk is ’n gelisensieerde finansiële diensverskaffer.

Content within this section: