Click Here to Apply Daily Yields Fund Information

2011 Begroting

Karin Muller, hoof van Middelmark-oplossings by Sanlam Persoonlike Finansies, verduidelik die vernaamste implikasies van die Begroting vir verbruikers.

Pogings om die gehalte van en toegang tot gesondheidsorg vir Suid-Afrikaners te verbeter:

  • R360,6 miljard sal oor die volgende drie jaar bestee word om toegang tot kwaliteitgesondheidsorg te verbeter. Dit sluit die instelling van Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) in.
  • Om die NGV-skema op dreef te kry, sal R1,2 miljard bestee word om familiegesondheidspanne – bestaande uit verpleegsters, dokters en gemeenskapsgesondheidswerkers – op die been te bring wat na families in fasiliteite en gemeenskappe sal omsien en die gehalte van sorg in hospitale sal verbeter.
  • Verder sal R2,5 miljard aan uitgebreide MIV-berading en toetsing en breër toegang tot antiretrovirale behandeling bestee word.
  • Kraam- en kindergesondheidsdienste sal verbeter word. R1,4 miljard is bewillig om 400 verpleegsters en vroedvroue op te lei, gesondheidsdienste by skole te verbeter en dienste in sale vir ma’s en kinders by distrikshospitale te verbeter.
  • R2,7 miljard sal bestee word aan die verbetering van beskikbare gesondheidsgeriewe en mediese toerusting regoor die land.
  • Verskeie befondsingsmetodes sal ondersoek word. ’n Moontlike verhoging in die BTW-koers en ’n bobelasting op individuele belasbare inkomste sal vanjaar oorweeg en ondersoek word as deel van die opsies om die befondsingsvereistes vir die implementering van ’n nasionale gesondheidsversekeringstelsel te help dek.


Wat beteken dit vir die verbruiker?

Muller sê daar is duidelik ’n groter verbintenis van regeringskant om gesondheidsorgstandaarde vir alle Suid-Afrikaners, veral die armes, te verbeter. Hoewel veranderings oor ’n paar jaar ingefaseer sal word, is dit duidelik – en in verlede jaar se Begroting genoem – dat die regering nie genoeg geld het om die hele NGV-skema te implementeer nie. Dit beteken dat verbruikers uiteindelik deur een of ander vorm van belasting geraak sal word. Die detail word nog ondersoek, maar van die alternatiewe wat oorweeg word, is ’n verhoging in BTW, die verwydering van mediese subsidies en ’n betaalstaatbelasting. Hierdie opsies word egter nog net ondersoek en sal nie vanjaar ingestel word nie.

Aangesien die implementering van die NGV-skema ingefaseer sal word, sal verbruikers ook nie onmiddellik by die skema baat vind nie, hoewel sommige hopelik beter dienslewering en voordele sal begin ervaar. As jy tans ’n mediese skema het wat in jou mediese behoeftes voorsien, sal jy met die betaling van ’n maandelikse premie moet voortgaan om steeds jou mediese behoeftes te dek.

Pogings om die gehalte van en toegang tot onderwys te verbeter:

Aangesien werkskepping die regering se grootste prioriteit vir 2011 is, sal besteding aan onderwys waarskynlik ’n fokus wees in die jare vorentoe. En hoewel R8,2 miljard reeds toegeken is om skoolgeriewe oor die volgende drie jaar te verbeter, stel die regering dit duidelik dat hy dit nie alleen kan doen nie, maar dat besigheid, ouers, gemeenskappe en leerders ook hul kant sal moet bring.

Persoonlike belasting:

Wat persoonlike belasting betref, word die las vir laer inkomstegroepe verlig deur:
  • ’n Verhoging van die minimum belastingdrempel tot R59 750 vir belastingbetalers wat jonger as 65 is, en R93 150 vir belastingbetalers van 65 jaar en ouer.
  • ’n Voorgestelde belastingdrempelverhoging vir belastingbetalers van 75 jaar en ouer.
  • ’n Verhoging in die jaarlikse belastingvrye rente-inkomste tot R22 800 vir persone wat jonger as 65 is, en R33 000 vir persone van 65 jaar en ouer.


Wat beteken dit vir die verbruiker?

Die veranderings in persoonlike inkomstebelasting is basies aanpassings vir inflasie. Kommentators verwys dikwels hierna as ’n “verskuiwing van belastingkerwe”. Dit beteken jy betaal verskillende belastingkoerse op verskillende dele van jou inkomste. Op die eerste R150 000 wat jy in ’n jaar verdien, betaal jy 18%; op die volgende R85 000 (dit is R150 001 tot R235 000) betaal jy ’n hoër koers van 25%, ens. Die verskuiwing van belastingkerwe bring mee dat jy, wanneer jy gedurende die jaar jou verhoging kry, meer belasting op daardie ekstra inkomste kan betaal. Muller sê egter dat as ons meer verdien om die uitwerking van inflasie teen te werk, dit nie help as daardie ekstra inkomste deur belasting ingesluk word nie. Daarom het die Minister die belastingkerwe aangepas om vir inflasie voorsiening te maak. Insgelyks is die belastingdrempel van R57 000 tot R59 750 verhoog vir belastingbetalers wat jonger as 65 is. Wat rentevrystellings betref, sal jy nie belasting betaal op die eerste rentebedrag wat jy verdien nie. Dit beteken as jy jonger as 65 is, sal jy net belasting op rente betaal as jy meer as R22 800 rente per jaar ontvang. As jy tussen 65 en 75 jaar oud is, sal jy net belasting op rente van meer as R33 000 per jaar betaal.

Aftreebefondsing:

Vir individue met pensioen- en aftreefondse is die volgende belastingaansporings aangekondig:
  • Die belastingvrye enkelbedragvoordeel by aftrede styg van R300 000 tot R315 000.
  • Jou werkgewerbydrae tot jou aftreefonds sal vanaf Maart 2012 as ’n belasbare byvoordeel hanteer word, en jy sal tot 22.5% van belasbare inkomste vir bydraes tot goedgekeurde aftreefondse kan aftrek, tot ’n maksimum van R200 000 per jaar.
  • Die maksimum enkelbedragonttrekking (een derde) van toepassing op pensioen- en uittree-annuïteitsfondse sal ook op voorsorgfondse van toepassing wees.


Wat beteken dit vir die verbruiker?

Indien jou werkgewer tans namens jou bydraes tot jou pensioen- of uittree-annuïteitsfonds lewer, word jy nie daarop belas nie. Dit sal egter vanaf 1 Maart 2012 as ’n byvoordeel beskou word, wat beteken dat jy belas sal word. Desondanks sal jy toegelaat word om tot 22.5% van belasbare inkomste vir bydraes tot pensioen-, voorsorg- of uittree-annuïteitsfondse af te trek. Die doel van aftreebefondsing is om aan verbruikers ’n inkomste tydens aftrede te gee. Voorheen kon jy in die geval van voorsorgfondse die hele bedrag by aftrede neem, terwyl ’n lid van ’n pensioen- of uittree-annuïteitsfonds slegs een derde van die waarde by aftrede kon neem, terwyl die orige twee derdes belê moes word om ’n pensioeninkomste tydens aftrede te verseker. Die Minister se voorstel is egter dat ons dit baie eenvoudiger maak. Die voordeel hiervan is dat die pensioenstelsel minder verwarrend sal wees vir verbruikers. Nog ’n voordeel is dat die geld wat oorspronklik belê is om ’n inkomste tydens aftrede te verskaf, vir hierdie doel aangewend sal word, in plaas van om dit as ’n enkelbedrag te neem. Hierdie en ander voorgestelde veranderings sal nie verbruikers onmiddellik raak nie, maar mettertyd ingestel word.

As jy eiendom koop of verkoop, is die volgende vir jou van belang:
  • Die vrystellingsdrempel vir hereregte sal van R500 000 tot R600 000 verhoog word.


Wat beteken dit vir die verbruiker?

Jy sal minder hereregte betaal as jy ’n eiendom ter waarde van meer as R600 000 koop. Op ’n eiendom wat R1 miljoen werd is, sal jy slegs op R400 000 van die eiendom se waarde hereregte betaal.

Sondebelasting:
  • Aksyns op alkohol styg met tussen 4.5% en 10.3%, en belasting op tabakprodukte met tussen 6% en 10.2%. Dit beteken jy sal 80 sent meer betaal vir ’n pakkie van 20 sigarette.

Reisbelasting:
  • Die algemene brandstofheffing word op 6 April 2011 met 10 sent per liter op beide petrol en diesel verhoog. Die Padongelukfondsheffing styg met 8 sent tot 80 sent per liter, en lugpassasiers se vertrekbelasting op internasionale vlugte styg vanaf 1 Oktober 2011.

Elektrisiteitsgebruikers:
  • Die heffing van toepassing op elektrisiteit afkomstig van nie-herwinbare en kernenergiebronne word vanaf 1 April 2011 met 0.5c/kWh tot 2.5c/kWh verhoog. ’n Deel van hierdie inkomste sal opsygesit word vir die rehabilitasie van paaie wat beskadig is as gevolg van die vervoer van steenkool wat vir elektrisiteitopwekking bestem is.
  • Die verhoging behoort egter nie ’n impak op elektrisiteitstariewe te hê nie, omdat dit reeds in die Nasionale Energiereguleerder se tariefstruktuur in ag geneem is.


Wat beteken dit vir die verbruiker?

Hoewel dit goeie nuus is dat ons vanjaar nie nog meer inkomstebelasting gaan betaal nie, sal ons wel meer belasting betaal op sekere items wat ons gereeld gebruik. Dit beteken sekere goed gaan oor die algemeen duurder word. Daar was die afgelope jaar verhogings in die belasting op alkohol en tabakprodukte asook op brandstof.

Daarom is dit nodig om jou begroting sorgvuldig te beplan vir die jaar wat voorlê, aangesien verskeie items jou uitgawes kan verhoog – en die geld wat jy elke maand beskikbaar het, kan verminder. Hoër sondebelasting beteken jy sal moet let op hoeveel jy elke maand aan tabakprodukte, alkohol en brandstof bestee en jou toewysing aan hierdie uitgawes moet verhoog, of so nie jou verbruik moet inkort.

Wat positief is, is dat die verhoging in die heffing op nie-herwinbare energie nie jou sak sal raak nie, aangesien die Nasionale Energiereguleerder dit reeds in ag geneem het vir die tariewe wat ons as verbruikers betaal.

Content within this section: