Kollektiewe beleggings skitter in taai tye

Money Matters

A monthly newsletter focusing on personal finances - and how to continually improve these - through dealing with issues that the average salary owner has full control over.



Kollektiewe beleggings skitter in taai tye
Date: 01 Apr 2009

Ons het kollektiewe beleggings (voorheen bekend as effektetrusts) breedvoerig in vorige Money Matters-artikels gedek, en wil hulle graag weer op die voorgrond plaas.

 

Hoekom is ons so ingenome daarmee? Om verskeie redes:

  1. Hulle bied blootstelling aan ‘n reeks van beleggings wat andersins buite die bereik van die gemiddelde salaristrekker sou wees.
  2. Hulle is bekostigbaar, en daarom ‘n geskikte beleggingsopsie vir diegene met ‘n beperkte begroting.
  3. Hulle is toeganklik en hoogs likied – hulle kan vinnig verkoop en die geld beskikbaar gestel word indien dit sou nodig wees.
  4. Oor die jare het hulle omvorm tot hoogs gereguleerde entiteite, wat beteken dat die belegger beskerm is.

 

1. ‘n Wye reeks van keuses

Sedert die jare negentig het die keuse van kollektiewe beleggings gegroei en sluit deesdae verskeie nuwe soorte soos geldmarkfondse, suiwer effektefondse, spesialis-aandeelfondse (wat op sekere sektore van die aandelemark fokus), en globale fondse in. Dit beteken dat jy met elke kollektiewe fonds nou feitlik in enige bateklas, marksektor of wêreldstreek kan belê. Jy kan ook ‘n kollektiewe beleggingsfonds kies wat jou beleggingsbehoeftes (inkomstestroom, kapitaalgroei of albei) en beleggingsrisiko-toleransie pas.

 

‘n Kort nota oor globale kollektiewe beleggingsfondse: hulle is besonders aanloklik omdat ‘n mens ideaal gesproke internasionale blootstelling in jou beleggingsportefeulje behoort te hê. Deur in ‘n globale kollektiewe fonds te belê, kan jy munt slaan uit jou blootstelling aan verskillende sektore en maatskappye wat of nie in die Suid-Afrikaanse mark beskikbaar is nie, of beperkte blootstelling hier het.

 

Suid-Afrikaanse beleggers kan uit 390 buitelandse fondse kies wat by die Finansiële Diensteraad geregistreer is. Besoek die FDS se webtuiste, www.fsb.co.za, vir meer inligting.

 

2. Bekostigbaarheid

Die meeste fondse het ‘n minimum debietorderbedrag wat van R300 tot R500 per fonds wissel. Sommige bestuurders aanvaar minder per maand, soos byvoorbeeld Community Growth teen R50, ‘n paar van die Stanlib-fondse, ook teen R50, en ABSA teen R100. Jy kan ook bykomende eenhede binne jou fonds ad hoc aankoop, en byvoorbeeld jou jaareind-bonus gebruik om nog eenhede te koop.

 

3. Likiditeit

Die meeste fondsbestuursmaatskappye sal die verkoopsbedrag binne twee tot vier dae vir jou beskikbaar hê, sou jy hulle instruksie gee om jou eenhede te verkoop. Die meeste kollektiewe beleggings is egter nie korttermynbeleggings nie. As jy dus jou eenhede verkoop net om die kontant te bekom, verloor jy. Omdat markpryse daagliks fluktueer, kan jou eenhede vandag minder werd wees as gister. Dit neem jare vir ‘n kollektiewe belegging om werklik groei te begin toon. Bedryf jou kollektiewe beleggingsrekening dus met ‘n medium- tot langtermyndoel voor oë (minstens vyf tot tien jaar vir goeie opbrengste). Moet ook nie jou trusts verkoop as daar ‘n afswaai in die mark is nie. ‘n Tydelike afswaai in die mark is ‘n goeie tyd om in kollektiewe beleggingsfondse te belê, omdat jou maandelikse belegging meer eenhede koop. Wees geduldig en wag – jy sal die vrugte pluk wanneer die markte later opwaarts beweeg.

 

4. Regulasie van die bedryf

Kollektiewe beleggings vorm deel van die kollektiewe beleggingsbedryf en word onder die Wet op die Beheer van Kollektiewe Beleggings van 2003 gereguleer, wat die Effektetrustwet van 1981 vervang het. Die Kollektiewe Beleggingswet verseker dat dié beleggings wetlike beste praktyke volg. Verder word elke kollektiewe beleggingskema deur ‘n akte beheer wat onder die gesag van die registrateur van die Finansiële Diensteraad (FDR) val. Die registrateur het die gesag om die werk van die trustee en bestuurder te inspekteer.

 

Elke skema moet ‘n trustee of bewaringsbeampte aanstel, en een van die take van die trustee is om te verseker dat die bestuurder die skema in navolging van die akte bedryf. Nog ‘n belangrike funksie van die trustee is om as bewaarder van alle kontant en sekuriteite in die portefeulje op te tree. Onderliggende bates behoort geensins aan die bestuurder of die bestuursmaatskappy nie, maar word namens die beleggers deur die trustees bestuur. Dit verskaf uiters belangrike beskerming vir die beleggers.

 

Beleggers se gemoedsrus word verder verseker deur ‘n waghond en koördinerende liggaam – die Vereniging van Kollektiewe Beleggings (VKB) wat gestig is om die voordele van kollektiewe beleggings te bemark, en om die ontwikkeling en groei van die bedryf te fasiliteer. Die VKB dien as die bewaarder van die gedragskodes en standaarde vir die hele bedryf.

 

Kollektiewe beleggings word hoog aanbeveel as ‘n manier om die beleggingsmark te betree sonder die beperking dat jy moet wag tot jy genoegsame fondse het om ‘n gediversifiseerde aandeleportefeulje te skep.