Sanlam tussentydse resultate 2010

Sanlam het vanoggend sy tussentydse resultate vir die ses maande geëindig 30 Junie 2010 op SENS vrygestel. Die Groep se prestasie weerspieël die volgende hoofkenmerke:

Verdienste

  • Netto resultaat van finansiële dienste per aandeel styg met 14%
  • Kernverdienste per aandeel 2% hoër
  • Genormaliseerde wesensverdienste per aandeel 2% hoër

Besigheidsvolumes

  • Nuwebesigheidsvolumes oorwegend stabiel
  • Nuwe lewensversekeringsbesigheid styg met 13%
  • Netto waarde van nuwe gedekte besigheid styg met 16% tot R283 miljoen
  • Marge van netto nuwe gedekte besigheid styg van 2,23% tot 2,32%
  • Netto fondsvloeie van R6,6 miljard

Groep Ekwiteitswaarde

  • Groep Ekwiteitswaarde per aandeel van R24,79
  • Jaarlikse opbrengs op Groep Ekwiteitswaarde per aandeel 9,1%

Kapitaalbestuur

  • Diskresionêre kapitaal op 30 Junie 2010 R2,8 miljard
  • Sanlam Lewens se dekking van kapitaaltoereikendheidsvereistes 2,9 keer

Sanlam se groep- uitvoerende hoof, Johan van Zyl, lewer soos volg kommentaar:

“Die Groep het goed gevaar ondanks die uitdagende bedryfstoestande gedurende die eerste ses maande van 2010 en al die belangrikste prestasie-aanwysers weerspieël ‘n bevredigende resultaat op ‘n vergelykende grondslag. Dit bevestig weereens die Groep se prestasierekord van sterk resultate aangesien ons diversifikasiestrategie (wat marksegmentasie, oplossingsaanbiedings en geografiese teenwoordigheid insluit), tesame met omsigtige bedryfs- en finansiële praktyke, tot sy defensiewe karakter in ongunstige handelstoestande bygedra het. Ons kernbesighede bied steeds ‘n stabiele basis en word deur ‘n groter wordende bydrae deur beleggings in nuwe groei-inisiatiewe aangevul.

“Die Groep se gevestigde strategie het hierdie tussentydse resultate suksesvol ondersteun. Die direksie en bestuur is steeds verbind tot die Groep se hoofdoelwit om aandeelhouerswaarde te maksimaliseer. Die vyf pilare van optimale kapitaalaanwending, verdienstegroei, koste en doeltreffendheid, diversifikasie en transformasie ondersteun hierdie strategie en goeie vordering is ook met al hierdie pilare gemaak.”

Volgens dr. Van Zyl is ‘Optimisme ondanks onsekerheid’ die beste beskrywing van die vooruitsigte vir die tweede helfte van die jaar.

“2010 het begin met hernieude beleggersvertroue dat die krisis in finansiële markte grotendeels verby is en dat die wêreld gereed maak vir versnelde groei. Alhoewel wêreldwye ekonomiese groei geleidelik terugkeer, bestaan onsekerheid en afkeer van risiko steeds en word dit vererger deur die verskyning van soewereine kredietrisiko in Europa en gereelde ekonomiese data wat hoogstens ‘n langdurige opswaai bevestig.

“Ons is steeds vol vertroue en optimisties dat die Groep sal voortgaan om goeie bedryfsresultate te behaal. Die bedryfsomgewing sal egter na verwagting in die tweede helfte van die jaar uitdagend bly, met slegs trae ekonomiese verbetering in die meeste van die ekonomieë waarin ons sake doen. Dit sal na verwagting nie in die tweede helfte van die jaar enige beduidende verbetering in prestasie tot gevolg hê nie in vergelyking met die eerste ses maande van 2010 of die sterk tweede helfte van 2009,” sê hy.

Klik hier vir Johan van Zyl's se aanbieding aan beleggers.
Klik hier vir die volledige resultate.

Content within this section: